Sishen: ‘Die bult is bestyg, nou lê die berg voor’

Sishen, Griekwas se Superliga-kampioen vir 2017. (Foto: Verskaf)

Sishen, nes die vorige paar jaar Griekwas se Superliga-kampioen, het die eerste bult bestyg, nou lê die berg voor.

Só sê die span se afrigter, Riaan van Staden, ná Sishen se eindstrydsege van 39-5 oor United van Upington (rustyd 27-5), en met verwysing na die reeks om die Goue Beker wat op die klub wag.

Van Staden sê dit was ʼn geweldige uitdaging om ritme van die een wedstryd na die volgende oor te dra.

“In ʼn Superliga wat reeds min wedstryde het, het twee spanne boonop vanjaar ontrek. Dit het ons soms met twee tot drie weke tussen wedstryde gelaat, maar ons het op die oefenveld gewoel, en is tevrede met die seisoen tot dusver.”

Hy sê Sishen se agttal speel vanjaar bitter goeie rugby.

“Dit het die grondslag gelê vir die aanvalle van agter af. Die manne werk baie hard in die enjinkamer, en ons agterspelers kon met skoon balbesit en baie ruimte aanval, so by so dat ons vanjaar lekker drieë kon druk en groot tellings kon opstapel.”

Van Straten sê Sishen beskik oor ʼn betreklike jong groep spelers, met volop gesonde energie.

Onderbou

Hy beklemtoon dat ʼn oormaat hartstog en durf, spruitende uit ʼn gesonde geloofslewe en dankbaarheid vir gegewe talente, die onderbou van die span se vertoning op en sy lewe van die veld af vorm.

“Sukses is ʼn groot woord, want ons is nog net halfpad van waar ons vanjaar wil kom. Die eerste bult is geklim, nou lê die berg voor.

“Met rugby van hoë gehalte, klipharde, fisieke spel en feitlik geen ruimte vir foute nie, is die Goue Bekerreeks ʼn dier van ʼn ander aard.

“Ons het vir onsself ʼn mikpunt gestel van waar ons die seisoen wil afsluit, en ons sal nou moet ratte verwissel as ons dit wil bereik.

“Hoewel ons ʼn jong groep het, het die meeste van ons spelers al Goue Bekerrugby gespeel, en die manne verstaan wat van nou af tot 9 September moet gebeur, wanneer die eerste ronde afskop.”

Grootste uitdaging

Die afrigter beskou die grootste uitdaging nou om die ritme uit die span se Superligaseisoen suksesvol na die Goue Bekerreeks oor te dra.

“Dit is vir ons ʼn groot voorreg om in dié reeks te kan speel, en ons sien bitter baie daarna uit.

“Ná ʼn paar dae van rus, klim ons weer in om met die voorbereiding te begin.

“Om reën te voorspel tel nie, om arke te bou wel.”

Van Straten sê daar word van die veld af baie hard gewerk om in die gemeenskap terug te ploeg en ʼn verskil te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.