Sjoe, daar skraap die Bokke toe weer deur

Handré Pollard druk sy drie na ʼn fop-aangee. Hy is as speler van die wedstryd aangewys. (Foto: [email protected])

Die Springbokke bly op die wenpad, maar hoe lank nog voordat hulle gaan afval?

Die Bokke het Saterdagaand in Edinburgh weer deurgeskraap toe hulle Skotland met 26-20 geklop het nadat hulle rustyd met 20-17 voor was.

Ja, dis nóg ʼn oorwinning op toer en dus moet ʼn mens seker nie te krities te wees nie. Die dae dat die Bokke ook oor die Skotte gaan rol, is lankal op die rak geplaas.

Dit was ʼn baie gelykopstryd, twee drieë teen twee en besit en gebiedsvoordeel feitlik gelyk.

Nou lê die laaste kragmeting met Wallis in Cardiff voor en geoordeel aan die vertonings teen Engeland, Frankryk en Skotland, sal die Bokke aanstaande Saterdag baie diep moet delf.

Ja, die Skotse span van 2018 verskil hemelsbreed van vorige spanne. Hulle is goed afgerig, en het nou ook spelbrekers en spelskeppers soos Stuart Hogg, Huw Jones en Greig Laidlaw wat kan saampraat. Én hulle het ondernemingsgees.

Hul voorspelers hoef ook nie meer terug te staan nie.

En die Bokke?

Dalk is hulle bloot moeg, pootuit gespeel.

Jy kan mos nie in Februarie in die Superreeks reeds op jou beste wees en dan vir tien maande lank daarmee volhou nie?

Kyk ook maar na die All Blacks en Wallabies. Dis ook maar rukke en stote van hul kant af.

Die positiewe dinge teen Skotland?

Handré Pollard was die groot uitblinker en afgesien van sy 18 punte, het hy al die toutjies getrek. Hy is as speler van die wedstryd aangewys.

Sy jong skakelmaat, Embrose Papier, het vanselfsprekend een of twee foute begaan, maar hy is ʼn blink diamant.

Voorlangs het veral die plaasvangerstut Thomas du Toit amok gemaak toe hy opgestuur is.

Dan het Duane Vermeulen en RG Snyman ook goeie werk op die aanval en verdediging gedoen.

Maar ai, die dissipline is nie na wense nie.

Ja, dit was die Fransman Romain Pote wat in beheer was en hy het aan albei kante baie foute oorgesien.

Maar hou maar duim vas dat daar geen Bok uitgewys sal word nie.

Puntemakers ‒

Suid-Afrika (20) 26: Drieë: Jesse Kriel. Handré Pollard. Doelskoppe: Pollard (2). Strafdoele: Pollard (3), Elton Jantjies.
Skotland (17) 20: Drieë: Peter Horne, Hamish Watson. Doelskoppe: Greig Laidlaw (2): Strafdoele: Laidlaw (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nico

Toe die B(K)rokke nie in die Curriebeker mog speel nie is daar aan die begin van die toer gesannik hulle is uit oefening. Nou 3 wedstryde later skerm jy dat hulle moeg is Pieter. Ek wil almal wat so sannik oor sportmanne se moegheid en lank van die huis af is uitdaag om net 3 maande saam met ‘n volwaardige siviele konstruksie of groot bouers spanne te gaan werk. Ja veral die spelers self. Dit is vir minstens 49 weke van die jaar krom staan met baie wat 10 tot 12 ure per dag werk en dit sluit minstens 3… Lees meer »

Spike

Bokke kort spelskeppers ñ nr. 9, 12, 13 en 15.

Gielie

Na die 5e zol pappegaai slaai het die bokke se game al hoe beter geword.

wolla

Die Skotte het voor die wedstryd slegs 1 van hul laaste 12 wedstryde op Murrayfield verloor. So duidelik tans geen “push overs” op Murrayfield nie. Kolisi het die manne mooi gelei.

Swartwolf

Bok vaste vyf voorspelers en Thomas du Toit in die regte posisie op losskop saam met Pollard se uitblink spel het die bokke laat wen. Res was maar baie gemiddeld.