Skaaf- en grasbrandmerke is deel van rugby

Skaafmerke, grasbrande (dis nou dié aan jou elmboë, knieë en boude) en blase aan jou voete, was vroeër deel van rugby totdat hulle velde begin natlei het, met wintergras gesaai het en jy nie daarop kon oefen nie.

Deesdae se velde is lowergroen, word in strepe en in blokke gesny en op ʼn sekere hoogte gemanikuur. Van die ou knie- en elmboogbeskermers, verbande en pleisters is daar baie min sprake en hoeveel spelers het nog ʼn botteltjie Merkurochroom of Deep Heat in hul toksakke?

Bygesê, dis darem meestal velde waarop belangrike wedstryde gespeel word, want by sekere klubs (veral dié op die platteland) en skole waar die beursies nie bult nie, is ʼn droë, harde en stowwerige veld (ja, ook nog soms duwweltjies) jou grootste bondgenoot.

Oorsee word die probleem gesystap omdat daar al hoe meer van sintetiese oppervlakke gebruik gemaak word om nat en yskoue winters die hoof te bied.

Maar die Walliese Scarlets se kleedkamer (seker maar ook dié van Glasgow Warriors – maar wie gee nou om vir ʼn verloorspan?) het Vrydagaand ná die Pro14-halfeindstryd in Glasgow soos ’n oudweermagsiekeboeg gelyk nadat die Scarlets die Warriors in die halfeindstryd van die Pro14-reeks geklop het.

Dié kragmeting op Scotstoun is op ʼn sintetiese 4G-veld gespeel, maar dit was droog en nie behoorlik natgelei nie.

Dit was so erg dat die Scarlets nie Maandag kon oefen nie. Van die spelers het Dinsdag steeds gekla oor die rou skaafmerke wat hulle laat wakkerlê het en wat aan die lakens vasgekleef het.

Is dit so erg, of het ons maar net sag geraak?

Toe die All Blacks in 1970 deur Suid-Afrika getoer het (dit was die geval op die meeste toere, ook wanneer die Springbokke oorsee aan nat, koue toestande blootgestel is), is toerspanne baie keer voor die eerste toets na die slagpale gelei.

Die All Blacks het hul eerste wedstryd op 20 Junie 1970 in Oos-Londen gespeel en was binne ʼn maand in nog nege ander toerwedstryde betrokke voor die eerste toets in Pretoria.

Dink net ʼn bietjie daaraan, van Oos-Londen na Bethlehem, Kimberley, Upington, Windhoek, Springs, Johannesburg, Potchefstroom, Bloemfontein, Salisbury en eers drie dae voor die toets na Pretoria.

Net 30 spelers op toer, geen plaasvervangers nie, geen besigheidsklas op vliegtuie nie, soms ure en ure met brand- en skaafmerke in ʼn toerbus.

Maar het die All Blacks of enige ander span gekla?

Nee, want dit was ʼn voorreg om rugby te speel, om jou wonde spreekwoordelik te lek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Piet Pompies ·

Die berig laat my dink aan laerskool dae, na ‘n rugby wedstryd is jy nat gesweet, met grond en sand besmeer, hier en daar sit die gras en ander goed nog in jou vel vas. Daardie eerste bad na die wedstryd is pynlik en na die tyd loop mens maar so bietjie kruppel. Dan word daardie pyn omgesit in sensasie soos die wonde gesond word, teen Vrydag is hulle amper gesond, net om Saterdag weer uit te draf en daar trek die nerwe weer.. dit was lekker

Purchase ·

ja nee kyk ek stem saam Piet pompies ons skool veld in Newcastle by Amajuba was klip hard en was n voordeel vir ons die mane het twee keer gedink as hulle op staan na n goeie duik slag end toe ek ouer word toe kom ek by sentral rugby club in Clencoe toe sien ek n Voet paaitjie deur die middle van die rugby veld toe mis ek sommer weer die skool veld

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.