Skandaal in wêreldrugby skend WB se integriteit

Waarskynlik die grootste skandaal in die geskiedenis van wêreldrugby, te wyte aan opperste nalatigheid en arrogansie aan die kant van die rugbybase, is op die koop toe ʼn flagrante skending van die Wêreldbeker se integriteit.

Wêreldrugby (WR), die internasionale beheerliggaam van die sport, het Dinsdag – ná ʼn gesloer van drie maande – Roemenië, Spanje én België uit die WB-aanspraakstryd geskors.

Dit beteken onder meer dat Rusland, wat die vierde beste op die vlak onder die Sesnasiesreeks gevaar het (dus Europa se tiende beste span), nou Japan toe gaan vir die WB-toernooi; en dat Duitsland wat vanjaar nie ʼn enkele toets kon wen nie, ʼn kans in die uitspeelstryd teen die Europese derdevlakwenner, Portugal, kry.

Roemenië, Spanje en België is geskors omdat hulle onverkiesbare (onwettige) spelers in hul spanne vir die Europese aanspraakreeks ingesluit het.

Benewens die reekspunte wat afgetrek is, is die spanne met tussen £50 000 (byna R850 000) en £125 000 (oor die R2,1 miljoen) beboet.

WR is konsuis “uiters teleurgestel in die ongelukkige en onvermydelike gebeure”, maar kan hoegenaamd nie sy hande in onskuld was nie. As internasionale beheerliggaam is hy in die beste posisie om verkiesbaarheid te kontroleer, en hy moet doodgewoon sy verantwoordelikheid in dié opsig aanvaar.

Die groot vraag is hoe ʼn span onwettige spelers in ses tot agt toetse kan gebruik sonder dat die owerhede lont ruik. Dis eenvoudig nie goed genoeg nie.

Dalk moet WR maar aanvaar hy is onbekwaam om die spel wêreldwyd te vestig en na behore te beheer.

Die hele onverkwiklike affêre het begin toe Rugby Europa (RE), die gewestelike beheerliggaam, ʼn Roemeense skeidsregter aangestel het om die wedstryd tussen Spanje en België in die Europese WB-aanspraakreeks te hanteer.

Spanje het daarop aangedring dat ʼn onbetrokke blaser aangestel word omdat ʼn Spaanse nederlaag Roemenië se plek in die WB-toernooi ten koste van Spanje sou verseker. ʼn Arrogante amptenary het die Spaanse versoek van die hand gewys.

Die Spaanse Leeus het teen alle verwagting in verloor, die vinger na die skeidsregter gewys, en geëis dat die wedstryd oorgespeel word.

Dis tóé dat die beskuldigings van onwettige spelers links en regs begin vlieg, en dit RE se verwaande amptenary totaal ontredderd laat, sodat WR uiteindelik met die aanstelling van ʼn regskommissie moes ingryp.

Die resultaat is die driedubbele skorsing.

Dit volg nadat Tahiti ook vroeër in Oseanië uit die WB-aanspraakreeks geskors is, nadat hy onwettige spelers teen die Cook-eilande gebruik het.

WR sal ʼn plan moet maak om behoorlik toesig oor die verkiesbaarheid van spelers in toetsspanne onder sy toesig te hou. Hy kan nie dié verantwoordelikheid verplaas nie.

Die WB-toernooi en die spel in geheel se integriteit is ernstig in gedrang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

rollie ·

Dis mos die rugby unie van die betrokke land (wat ‘n lid is van die wereldliggaam) wat moet toesien dat sy spelers wettig is en die regulasies nagekom word. Die wereldliggaam tree op as die regulasies nie nagekom word nie (nadat die betrokke unie onreelmatig opgetree het). Ek dink dis onredelik om te verwag dat die wereldliggaam te alle tye die status van elke speler oral in die wereld vooraf ken en dis haas onmoontlik om ‘n “oneerlike unie” vooraf te keer om ‘n onwettige speler sommer vinnig en ter enige tyd in ‘n toets in te druk.

Jack Russl ·

Stem amper saam rollie. Elke vlak van gesag speel sy rol.

As ‘n ou jou in die straat kry en sommer net ‘n vuishou gee gaan jy nie hooggeregs hof toe nie. Jy volg die korrekte kanale.

Daar is mos iemand in beheer van die wedstryd om na die administrasie kwessies om te sien. Die unie moet sekerlik sy spanlys aanstuur na die persoon, wat dan dit moet nagaan en seker maak almal is wettige spelers. Indien hy enige iets optel moet hy dit mos verder wat en so word dit hanteer.

Lyk of net die unie gestraf is en nie ook die persone wat daarvoor verantwoordelik is nie. Dus is die probleem nie aangespreek nie, net aandag is gegee aan die uitkoms.

WR rugby moet nie net die probleem “oplos” nie, maar ook die persone wat daarvoor verantwoordelik is uitsorteer. Dis ‘n groter storie as net verkeerde spelers. Daar moes seker saamgewerk geword het deur ‘n paar persone om die “foutjie” oor te sien

Veritas ·

Kon net sowel die taak aan die ANC gegee het. Hulle het ‘n goeie rekord van aanjaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.