Skeidsregter blaas ook vuur oor Rassie se waterkaskenades

Rassie Erasmus se teenwoordigheid langs die veld maak mense vies. Foto: Twitter.

Warren Gatland het al Rassie Erasmus se rol langs die kant van die veld tydens die SA A-rugbywedstryde bevraagteken.

Die afrigter van die Britse en Ierse Leeus-toerspan het onder meer vir SA Rugby se direkteur van rugby aangeraai om net ’n bottel water te onthou wanneer hy nader draf om die spelers se dors op die veld te les.

Nou het Alain Rolland, die voormalige Ierse rugbyspeler en skeidsregter, ook gesê dat Erasmus se teenwoordigheid langs die veld glad nie ’n waterdigte argument is nie.

“Rassie Erasmus mag Saterdag nie toegelaat word om water vir die spelers op die veld aan te dra nie,” het Rolland volgens Daily Mail gesê.

Volgens die 54-jarige Ier, wat in beheer van die Wêreldbeker-eindstryd in 2007 was, word geen hoofafrigter in die tegniese gedeelte op die veld toegelaat nie. Maar Erasmus is egter nie die Bokke se hoofafrigter nie en kan dus vrylik rondbeweeg; ’n situasie waarmee Rolland nie saamstem nie.

“Hy is die hoofafrigter in alles behalwe sy amptelike posbeskrywing. Rassie is by al die perskonferensies, by al die oefensessies en hy is die een wat vir Warren Gatland in die media aanvat. Dit is ’n skuiwergat wat die Springbokke uitbuit en ek hou niks daarvan nie.”

Rolland meen dat ’n mens nooit vir Steve Hansen langs die veld met ’n paar bottels water sou sien draf nie; selfs al was dié bobaasafrigter die All Blacks se direkteur van rugby.

“Dit sal egter moeilik wees om hom te keer want tegnies gesproke breek die Springbokke nie een van Wêreldrugby se regulasies nie.”

Warren Gatland. (Foto: Adrian DENNIS/AFP)

Op sy beurt het Gatland gesê dat dit rugby se beeld negatief beïnvloed.

“Ek dink hulle (die Springbokke) sal aanvoer dat Erasmus nie die hoofafrigter is nie. Jacques Nienaber kon met sy fisioterapeut-kwalifikasie ook gereeld boodskappe op veld gedurende die Wêreldbeker-rugbytoernooi neem,” het Gatland gesê.

“Ek is nie te bekommerd daaroor nie, ek dink net nie dat die beste indruk skep nie. Dit is egter hulle besluit, tegnies breek hulle geen reëls nie en ek sal maar net daarmee moet saamleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Riaan ·

Die All Blacks het vir jare lank ‘n tipe rugby gespeel waar hulle gekyk het hoe ver hulle ‘n reel kon buig, en in die proses het hulle baie keer met moord weggekom. Indien die Bokke nie ‘n reel oortree nie, doen dit vir solank moontlik totdat die reels verander.

VaalDonkie ·

Seg ek ook mos. Die All Blacks mag doen wat hulle wil, maar die res van die rugbywereld moet in hul spore trap of daar’s a strafskop of geelkaart.

tweeling ·

Rassie is nie nou die hoof afrigter nie, so die argument tel niks nie. Hy was wel met die SA A span se spel, maar nie nou meer nie. Wêreld rugby hou nie van innoverende ouens nie, hulle wil die “show run”.

koos10 ·

Nou in watter reël waord dit verbied? Die Iere is net suur dat hulle nie daaraan gedink het nie! Rassie dink inoverend, punt!

Michael ·

Amptelik is Rassie nie die hoofafrigter nie, maar prakties wel-hys dan altyd by tydens oefeninge-op die veld en hy lei die oefeninge. Sonder hom sal Nienaber niks bereik nie. Stem saam, hy breek geen reel nie so niemand kan iets daaraan doen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.