Skeidsregter Honiss weet soos die meeste van ons ook nie

whistleAs ʼn rugbyreël ʼn potensiële mynveld vir een van die wêreld se mees ervare skeidsregters is, hoe moet ʼn mens dan verwag dat die spelers dit moet nakom?

Paul Honiss (53), die Nieu-Seelandse skeidsregter wat in 2008 uitgetree het en nou aan die hoof staan  van die opleiding van  Nieu-Seeland se vroue-skeidsregters, skud sy kop oor die toepassing van die reël wanneer twee spelers in die lug om die bal meeding. Wie het die reg? Die aanvaller of die verdediger?

Ja, dis dieselfde Honiss wat die Bokke in 2004 geboor het toe hy die Bok-kaptein, John Smit, toestemming gegee het om met sy spelers te praat ná ʼn soveelste strafskop in ʼn toets teen die Iere in Dublin. Terwyl van die Bokke nog kringetjie gemaak het, het die Ierse losskakel, Ronan O’Gara, ʼn tikskoppie gegee en oorgeduik. Maar kom ons laat dit daar, want in die geskiedenisboeke staan dit: Ierland 17, Suid-Afrika 12.

Honiss weet waarvan hy praat, hy was immers in sy loopbaan die skeidsregter met die meeste toetse op sy kerfstok.

Maar oor die reël wanneer twee spelers in die lug om die bal meeding, weet hy soos die meeste van ons nie juis watter kant toe nie.

Onthou u die voorval toe Willie le Roux se voete deur die Highlanders se Jason Emery onder hom uitgehaal is in ʼn Superwedstryd tussen die Sharks en die Highlanders? Onthou jy die afstuur die Ierse flank CJ Stander, wat die Bok-losskakel Pat Lambie verlede jaar in Junie in die eerste toets disnis geloop het?

Verlede Saterdag is die All Black-senter van die Highlanders Malikai Fekitoa afgestuur nadat hy en die Crusaders-heelagter David Havili in die lug gebots het. Die week vantevore is Brumbies se James Dargaville afgestuur nadat hy en die Crusaders-heelagter Israel Dagg gebots het.

Volgens Honiss is daar verlede jaar deur Sanzaar  ʼn hele paar veranderinge aan die toepasssing van die reël gedoen, maar daar is reeds daarop teruggeval.

“Ek hoop nie dit raak ʼn geval waar spelers nie meer om die bal mag meeding nie.  Wie het die beste kans (om besit te verkry),  die aanvaller of die verdediger? Jy moet elke voorval op sy eie beoordeel,” het Honiss aan stuff.co.nz gesê.

Skeidsregters het ʼn baie moeilike taak, veral wanneer jy in die derde of vierde liga op ʼn Woensdagaand op ʼn buiteveld met swak spreiligte blaas. “Sit hom op die voet,” word menigmaal geskree en dan sak almal op die arme verdediger toe, onkantreël ofte nie.

Só ʼn voorval het ʼn einde van die oud-Bokhaker Uli Schmidt se aspirasies gebring om ʼn toonaangewende toetsskeidsregter te word.

Nadat Schmidt ʼn speler die soveelste keer gestraf het, het een van dié se spanmaats droogweg opgemerk: “ ʼn Mens kan sien dat hy nooit die game gespeel het nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wicus ·

EEN VAN DIE DAE GAAN DIE SKRUM SKAKEL VIR DIE LOSSKAKEL SE ” OOPS JOU MAKE- UP HET GESMEER”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.