Skeidsregterfluitjie, reën frustreer slordige Bulls

Die Bulls het met 17-10 teen Edinburgh verloor. Foto: Twitter.

’n Mens kan seker nie vir Marcell Coetzee verkwalik as hy vanaand nagmerries kry van ’n skeidsregter wat gereeld op sy fluitjie blaas nie.

Die Pretorianers het vroeër met 17–10 teen Edinburgh vasgeval en hulle het veral swaar in die eerste helfte onder die skeidsregter Ben Whitehouse geleef.

Dit het met tye gelyk asof ’n Bulls-speler skaars daaraan gedink het om moontlik iets strafbaars aan te vang, of die Walliese skeidsregter se skril fluitjie het oor die veld weergalm.

Voeg daarby Madosh Tambwe se moontlike drie ná ’n goeie skoppie deur Morné Steyn laat in die tweede helfte, en dit is seker te verstane as daar ’n paar ontevrede Bulls-ondersteuners in Pretoria is.

Terselfdertyd kan ’n mens ook sê dat die Bulls nie dinge vir hulself maklik gemaak het nie: Alles was beslis nie die skeidsregter se skuld nie.

Hulle het by die afbreekpunte gesukkel en Edinburgh het met slim hangskoppies die oorhand in die luggevegte gekry. Dan het spelers soos Pierre Schoeman en WP Nel omtrent vir hoofbrekens in die skrums gesorg.

Maar selfs in Skotland het die wolke silwer randjies – jy moet net ’n bietjie harder daarvoor soek.

Die Bulls se lynstane was uitstekend en hulle het gereeld die bal voor ’n Skotse hand weggeklap, terwyl hulle tot die laaste minuut geveg het om ’n gelykop uitslag af te dwing.

Jake White se troepe keer darem nou terug na Suid-Afrika waar hulle op 27 November teen Munster op Loftus Versfeld speel.

Dinge kan dalk ’n bietjie gladder op die Hoëveld verloop.

  • Puntemakers:

Edinburgh: Drie: Henry Immelman. Strafskoppe: Jaco van der Walt (3) en Mark Bennett.

Bulls: Drie: Marcell Coetzee. Doelskop: Morné Steyn. Strafskop: Chris Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek kan nie verstaan hoe mense nog sport ondersteun met die wete dat daar gediskrimineer word om nie die beste spelers te kies nie agv kwota sisteme.

Chris dupreez ·

Die Bulls is ore aangesit in die skrums afbreekpunte, asook harde verdedeging deur die Skotte. Hulle was self hulle grootste vyande met hul bal hantering en planloosheid in die eerste helfde en voeg daarby Thambwe se selfsugtigheid om nie die bal uit te gee nie en eerder vorentoe kruip om self die drie te druk. Hoop hulle ruk hulself reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.