‘Skeidsregtersbeslissing ’n verleentheid,’ sê Walliese speler

Foto: GlasgowWarriors/Twitter

Gianluca Gnecchi se besluit om Jamie Bhatti se drie in die wedstryd tussen die Glasgow Warriors en die Lions toe te ken, het baie Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers warm onder die kraag.

Terwyl die Glasgow-spelers feesvier het Gnecchi besluit dat die Skotse stut inderdaad ’n drie gedruk het, maar latere kykweersessies het egter die teendeel bewys.

Bhatti se poging was nie net kort van die doellyn nie, maar EW Viljoen het ook sake vir hom bemoeilik. Dit was ’n deurslaggewende oomblik in die wedstryd en die tuisspan het uiteindelik met 13 – 9 gewen.

Bernard Jackman, voormalige Ierse haker, het op Twitter gesê dat hy nie kan verstaan hoe die drie toegeken is nie.

’n Rukkie later het Jason Tovey (Cardiff-losskakel) daarop geantwoord en die beslissing as ’n verleentheid uitgekryt.

Intussen glimlag organiseerders egter breed oor die gewildheid van die Verenigde Rugbykampioenskap – meer as ’n miljoen kykers het die aksie van die tweede ronde gevolg.

Die wedstryd tussen Munster en die Stormers was die gewildste onder kykers en tot 308 000 rugbyliefhebbers het die wedstryd gevolg.

“Om die miljoen-kerf so vroeg verby te steek wys dat ondersteuners opgewonde is oor die produk en dit is ’n reusehupstoot vir die spanne en uitsaaiers,” het Martin Anayi (uitvoerende hoof) gesê.

“Die grootste derby-wedstryde van die seisoen lê nog voor, maar ons spog reeds met ’n uitstekende grondslag. Die reeks se gewildheid kan net toeneem.”

  • Gewildste wedstryde in ronde een en twee:
  1. Munster teen Stormers 308 000
  2. Munster teen Sharks 278 000
  3. Cardiff teen Connacht 267 900
  4. Scarlets teen Lions 251 200
  5. Benetton teen Stormers 174 900.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois Le Cochon

Meer skietgoed vir Rassie!

koos10

Lyk my die Iere is ook keelvol vir onbevoegde skeidsregters. Ondersteuning van ‘n vreemde oord vir Rassie.

Manie

Dit val so reg in Rassie se kraal, net soos die geval verlede naweek dat Adre Smith van die Stormers sy onskuld moes bewys dat hy NIE ‘n teenstander gebyt het nie, ofskoon geen beeldmateriaal kon bewys dat hy dit wel gedoen het nie. Ek is geen voorstander van vuilspel nie, maar wel van konsekwente optrede. Wat van Kyle Sinclair se beweerde byt van Franco Mostert tydens die Leeu toer? Hy is ook uitgewys, maar onskuldig bevind omrede daar geen bewyse was dat hy wel gebyt het nie, dus 2 verskillende voorvalle en 2 verskillende bevindings.

JohanR

Is dit nie tyd dat skeidregters rooi kaarte kry nie en vir ‘n wedstryd of twee geskors word, of terug gaan skeidregter skool toe. Kan ook geldlik in die sak geslaan word.

Thelsa

Gedink die RSA skeidsregters word deur Specsavers geborg maar die noordelike halfrond skeidsregters kort net ‘n wit kierie en ‘n Alsation.