Skeidsregtersbeslissing onder die vergrootglas

Hacjivah Dayimani trek vir Kurt-Lee Arendse plat. Foto: Hansie Linde.

Skeidsregtervertonings was nog altyd in die kollig en daar word gereeld om braaivleisvure oor omstrede beslissings gepraat.

In die jongste voorval is die 38-jarige Frank Murphy in die spervuur oor sy hantering van die Kurt-Lee Arendse/Hacjivah Dayimani-kwessie tydens die afgelope naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die Stormers en die Bulls in Kaapstad.

Die vlugvoetige Arendse was goed op pad doellyn toe nadat hy ’n hangskop uit die lug gepluk het, maar Dayimani se desperate (en hoë) duikslag het hom in sy spore gestuit.

Ruan Nortjé kon egter die beweging afrond om die Bulls binne trefafstand van die tuisspan te plaas.

Murphy het aanvanklik die drie toegeken en dit het gelyk of Dayimani skotvry van die duikslag-onderonsie sou kom.

Herhaalde kykweersessies het egter gewys dat Arendse die bal aangeslaan het, waarna die Ierse skeidsregter van plan verander het: Dayimani is met ’n geel kaart van die veld gestuur, maar volgens Murphy het die hele gedoente te ver van die doellyn plaasgevind om ’n strafdrie te regverdig.

Stefan Breytenbach was in sy skeidsregterdae een van Suid-Afrika se voorste assistent-skeidsregters en hy was onder meer saam met Jonathan Kaplan en Christie du Preez in aksie by die 2013-Curriebekereindstryd tussen die WP en die Haaie.

“Na my mening moes dit ’n strafdrie en geel kaart gewees het,” Breytenbach gesê.

“Ek glo die skeidsregter se rede vir die geel kaart was eerstens verkeerd. ’n Speler kry óf ’n geel kaart óf nie; wat volgende gebeur (of nie gebeur nie) moet nie ’n invloed daarop hê nie. Kaarte is nie daar om die span te straf nie, maar wel die speler vir sy oortreding.”

Foto: Hansie Linde.

“Oorbluf” is dalk ’n goeie woord om Jake White se reaksie hierop te beskryf.

“Hoe kry jy ’n geel kaart vir ’n hoogvat voor ’n oop doellyn? Daarna word daar oor die aanslaan gewonder – natuurlik sal ’n speler die bal aanslaan wanneer hy só platgetrek word,” het die Bulls se direkteur van rugby gesê.

Maar hoe dit ook al sy, daar is ’n strafskop aan die Bulls toegeken en Elrigh Louw het ’n rukkie later onder die pale gaan druk.

Die Kapenaars kon vir die laaste paar minute uithou om die wedstryd met twee punte te wen.

“Soos wat my afrigtersloopbaan vorder, het ek egter wyser geword en ek sal dus nie ’n onnodige bohaai opskop nie. Daar is nog ’n klompie wedstryde oor en ons is binne trefafstand van die uitspeelkragmetings.”

En Dayimani se reaksie?

“Ek het aanvanklik gedink dat dit ’n rooi kaart gaan wees,” het hy gesê toe hy die speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

“Die afgelope twee weke was ek maar stillerig op die veld en ek is bly ek kon vandag weer op meer suiers vuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

So hy het ‘n geelkaart gekry EN word beloon as speler van die wedstryd! Dis siek man! Wat se boodskap stuur dit vir die jong seuns?

MakersMark ·

Patetiese skeidsregter, kan die reëls nie net toegepas word nie ? En hy het beeldmateriaal maar maak steeds belaglik besluite ? Onmiddelike strafdrie en rooi kaart.

Manie ·

Dit sou nog nie die uitslag van die wedstryd bepaal het nie, want hy is afgestuur en die Bulle het ‘n drie direk na die strafskop gedruk. Verkeerde beslissing, maar dieselfde uitslag.

MakersMark ·

Dit is seker so. Maar dis nie die probleem nie konstante toepassing van die reels is.

Chantel ·

Dis tyd dat hierdie skeidsregters ook oor die kole gehaal word vir hulle swak beslissings. Dis immers sy werk!! Hulle kom net eenvoudig te maklik daarvan af.

piet ·

Stormers bly maar die beste, bankrot en al. Bulle moet nog spelers koop want hulle is nog nie opgewasse nie. Kan nie eers teen 14 manne wen nie.

Boksombende ·

Ek wonder of Jake White voor wereld rugby gaan verskyn vir sy uitlatings?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.