Skeidsregterskrisis het rugby in knelgreep

Vlad Iordachescu – skuldig of onskuldig? (Foto: Facebook)

ʼn Skeidsregterskrisis wat op rugby se tweede vlak geskep is, het die spel op die hoogste vlak in ʼn knelgreep wat verreikende gevolge kan hê.

Dit wil lyk of ʼn groot deel van die dilemma vervat is in reël 5(1a)in Wêreldrugby se reëlboekie: “Die skeidsregter is die enigste beoordelaar van feite en reëls op die veld. Hy moet die reëls van die spel in elke wedstryd regverdig toepas.”

Die kwessie spruit uit ʼn Wêreldbeker-aanspraakstryd tussen Spanje (destyds 19de op die wêreldranglys) en België (25ste) wat deur ʼn Roemeense skeidsregter hanteer is.

Die Belge het – teen alle verwagting in – gewen, en gevolglik sal Roemenië pleks van Spanje aanstaande jaar aan die Wêreldbekertoernooi (RWB) in Japan deelneem.

Spanje is woedend, het die blaser van onregverdigheid beskuldig, en eis dat die wedstryd oorgespeel word.

Boonop het die Spanjaarde vooraf vanweë die Roemeense RWB-aanspraak beswaar aangeteken dat ʼn Roemeense blaser die fluitjie vat. ʼn Arrogante Rugby Europa (RE) het dit van die hand gewys.

Byna drie weke later is die kwessie – wat voorkom kon wees – nog nie bygelê nie.

Wie is die blaser?

Hoewel hy skaars 33 is, is Vlad Iordachescu geen groentjie met die fluitjie nie. Hy is nege jaar lank al ʼn toetsblaser en word deur sommige as Roemenië se beste blaser beskou. In 2012 was hy op Stellenbosch vir ʼn WR-kursus van “belowende elite-skeidsregters”.

Luidens ʼn berig op die webwerf SA Referees het hy uit ʼn liefde vir die spel as 19-jarige speler al die fluitjie opgeneem omdat dit hom die geleentheid gebied het om langer by rugby betrokke te bly.

Sal só iemand willens en wetens sy loopbaan op die spel plaas om sy land in die RWB-toernooi in te help?

♦ Die groot vraag wat uit die huidige harlaboerla voortspruit, is hoe lank die skeidsregter se oppergesag op die veld nog sal geld.

Ja, die spel het ʼn lang pad gekom sedert die vroeë dae toe die kapteins nog oor die oortreding van reëls beslis het, en vandag waar die skeidsregter onontbeerlik is.

Daar is ’n lang evolusie wat die rol van die skeidsregter betref.

Toe die eerste skeidsregters (umpires) omstreeks 1866 op die toneel verskyn het, is daar twee – een deur elke span aangewys – en het hulle sake van die kantlyn af gereël.

Die Engelse Rugbyunie (RFU) het egter nog in 1874 uitdruklik bepaal dat die kapteins die enigste arbiters is. Hy het eers in 1881 die tweetal-skeidsregters in dié rol aanvaar. Destyds was die RFU se woord wet in internasionale rugby.

Natuurlik het die twee skeidsregters nie altyd saamgestem nie, en het ʼn geredekawel te veel tyd in beslag geneem. Teen 1885 is ’n derde skeidsregter (referee) aangestel met die beslissende stem in gevalle van ʼn dispuut tussen die ander twee (umpires).

Eers in 1892 het ʼn enkele skeidsregter die eerste keer die beheer van wedstryde oorgeneem. Tydens die eerste Britse toer na Suid-Afrika is die stelsel van drie skeidsregters dus nog gebruik.

Deesdae het die lynregters as assistent-skeidsregters beperkte magte om die blasers te help, en danksy tegnologiese ontwikkeling het die TV-skeidsregter sy verskyning gemaak.

Die evolusie duur dus voort, en Reël 5(1a) is in die spervuur – veral vanweë die groot bedrae geld wat by beroepsrugby betrokke is en die skade wat ʼn blaserfout aan ʼn span of speler se beursie kan aanrig.

Dalk moet die grootbase van Wêreldrugby aanstaande jaar ʼn slaggie na die Varsitybekerreeks se terugkerende wit kaart kom loer.

Dink net, as Spanje se afrigter en kaptein van die bevraagtekende beslissings daar en dan na die TV-skeidsregter kon verwys, was daar dalk nie nou onsekerheid oor wie Europa in die volgende RWB-toernooi sal verteenwoordig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

As die kaptein in krieket die reg het om aan te dring dat die beslissing na die TV skeidsregter gaan, kan ek nie sien hoekom dit nie in rugby gebruik kan word nie. Ja dit raak omslagtig hierdie heeltyd verwysery na die TV, maar daar is so baie geld ter sprake in rugby, mens wil graag regverdigheid sien. En ek is ook daarteen dat neutrale skeidsregters nie in superrugby gebruik word nie. Ek glo ‘n skeidsregter is maar ‘n mens en min mense is nie diep binne maar wel partydig vir jou land nie. En minstens los dit die probleem op dat mense nie na die tyd kan sê ja maar dit was julle skeidsregter wat geblaas het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.