Skepdoel in beseringstyd beslis titel se tuiste

Justin van Staden – bekerwenner. (Foto: Pumas Rugby)

Daar is darem min, indien enigiets, opwindender as ʼn eindstryd wat in beseringstyd met ʼn skepdoel beslis word.

Dis wat Sondag met die SuperSport-reeks in Oudtshoorn gebeur het, en het in ‘n mate vergoed vir ʼn bra oninspirerende rondomtaliefase.

Griekwas was ná 83 minute nog met 30-29 voor, toe die Pumas se plaasvervanger-heelagter Justin van Staden – tot sy span en ondersteuners se oorstelpende vreugde en die Poubloues se opperste teleurstelling – met ʼn skepskop geslaag het.

Die Laevelders het die reeks onoorwonne afgesluit, en was met 32-30 die nuwe kampioen.

Die Pumas het uit die staanspoor getoon dat hulle die pad Karoo toe aangepak het om die titel te wen, en was rustyd reeds gerieflik met 22-10 voor.

Die Diamantvelders – wie se spanbus met hul wegtrekslag uit Kimberley onder meer deur betogers (oor munisipale dienslewering) met klippe bestook is – het egter in die tweede helfte indrukwekkend teruggeveg.

Hulle het veral verras deur die Pumas se gedugte skrum te tem, en was in ʼn stadium met 30-22 voor.

Die Pumas het die stang vasgebyt, daardie noodsaaklike bietjie dieper gedelf, en in die doodsnikke die knoop deurgehak.

Griekwas se losskakel, George Whitehead, het 15 punte met drie elk doelskoppe en strafdoele behaal, maar die Pumas s’n, Chris Smith het die reeks as die voorste puntemaker (131) afgesluit. Whitehead was tweede met 95.

In weerwil daarvan dat hy die laaste vier wedstryde weens ʼn enkelbesering misgeloop het, kon niemand op die Poublou-vleuel Enver Brandt se 11 drieë verbeter nie.

Die puntemakers –

Pumas 32 (22) – Drieë: Marko Janse van Rensburg (2), Stefan Willemse, Matthys Joubert. Doelskoppe: Chris Smith (3). Strafdoel: Chris Smith. Skepdoel: Justin van Staden.

Griekwas 30 (10) – Drieë: Jonathan Francke, Kyle Steyn, AJ Coertzen. Doelskoppe: George Whitehead (3). Strafdoele: George Whitehead (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.