Skepdoele is een van daardie dinge wat rugbyspanne die meeste haat wanneer hulle die dag verloor.
Gaan kyk maar weer na Saterdag se video toe Morné Steyn twee skepdoele deur die pale geklits het om die Bokke met 18-10 te laat seëvier. Die Wallabies se moed het in hul skoene gesak, hulle lyftaal het die hele verhaal vertel, hulle moes van vooraf momentum opbou … maar dit was te laat.
Dis hoekom die Nieu-Seelanders steeds nie te veel oor Joel Stransky se skepdoel in 1995 praat toe hy die All Blacks in bykomende speeltyd van die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi met `n skepdoel gekelder het nie. Die All Blacks het dit gesien kom, die All Black-skrumskakel Graeme Bachop, het die skop probeer afstorm, maar die All Blacks se doppie was geklink.
Dis hoekom die Engelse ondersteuners steeds hulle koppe in ongeloof skud oor Jannie de Beer se wêreldrekord van vyf skepdoele in 1999 se RWB-kwarteindstryd teen die Bokke op Twickenham. Die Engelse losvoorspelers, Neil Back en Richard Hill (flanke) en die agtsteman, Lawrence Dallaglio, het geen raad daarvoor gehad nie. De Beer het namate die wedstryd gevorder het, al hoe dieper gestaan en Joost van der Westhuizen moes die bal al hoe verder uitgee.
Naas Botha word allerweë as die skepskepkoning beskou, maar ironies genoeg is hy slegs vyfde op die lysie van spelers war die meeste skepdoele deur die pale in toetsrugby gejaag het.
Die Engelse losskakel Jonny Wilkinson (36 skepdoele in 97 toetse) is gerieflik voor, gevolg deur die Argentyn Hugo Porta (28 in 58 toetse). Nog `n Engelsman Rob Andrew (23 in 76 toetse) is derde en die gewese Italiaanse losskakel Diego Dominguez vierde (20 in 76 toetse) gevolg deur Botha (18 in 28 toetse).
Steyn is slegs 11de (10 skepdoele in 65 toetse) en De Beer 13de (agt in 13 toetse).
Die Franse (222) spog met die meeste skepdoele, gevolg deur Skotland (144), Engeland (141), Wallis (128) en dan eers die Bokke (104). Nieu-Seeland het tot dusver slegs 91 skepdoele deur die pale gejaag.
Tot en met 1948 het skepdoele vier punte getel, dink net hoeveel makliker die Bokke in 1999 teen Engeland sou gewen het (die eindtelling was 44-21).
Jare gelede was die Bok-losskakel Gerald Bosch die spil van die Transvaalse span.
Transvaal het in 1972 in die Curriebekereindstryd teen die destydse Oos-Transvaal gespeel en Piet Bosman, die Transvaalse vaskopstut (en pa van Duitser Bosman), het drie keer sy hande oor die oë van die Rooi Duiwels se loskopstut, John Pace, gedruk terwyl hulle onder in `n losskrum gelê en Bosch gekorrel het.
“Luister, John, luister,” is al wat Bosman gesê het.
Transvaal het 25-19 gewen.
As Naas vandag gespeel het sou hy n rekord opgestel het wat eeue sou staan
Julle sê ook nie hoeveel toetse Naas gespeel het nie. Ek dink hy het baie minder gespeel as die meeste ander name daar.
Naas het in 28 toetse gespeel.
Volgens my somme is Naas maar nog die baas. Hy het .643 skoppe per toets geskop in 28 toetse en Jonny Wilkinson het .371 skoppe in 97 toetse gehad. So as Naas 97 toetse gespeel het sou hy 62 skoppe gehad het. So Jonny is nie voor nie en hy het ook nie met n leer bal geskop nie. `n Mens moet mos appels met appels vergelyk en nie soos hier bo sommer somme maak wat verkeerd is nie.
So persentasie gewys was Naas onder die beste.
Nico K
Eintlik % gewys is Jannie de Beer koning. Maar ja……ek dink Pieter Kruger se feite/statistiek is so bietjie van ‘n gemors. NIEMAND kan met Naas (die goue seun) vergelyk word nie.
Jy het hom of gehaat….of hy was jou held.