Skitterende eerste helfte sorg vir Rooidraak-sege

Die Rooi Drake het – te danke aan ’n skitterende eerste helfte – vir Australië 29-26 getroef. Foto: Twitter.

Alun Wyn Jones se 130ste wedstryd vir Wallis het vir ’n klassieke tweestryd teen Australië in hul Wêreldbeker-kragmeting op die Tokio-stadion in Japan gesorg.

Die Rooi Drake het uiteindelik 29 – 25 gewen nadat ’n skitterende eerste helfte gesorg het dat hulle ’n rustydvoorsprong van 23 – 8 geniet het.

Hul indrukwekkende losskakel, Dan Biggar, het ná net 37 sekondes vir die eerste punte op die telbord gesorg toe hy ’n skepskop tussen die pale deurgejaag het.

Hy is egter later in die wedstryd deur Rhys Patchell vervang nadat hy ’n harde hou teen die kop gekry het toe hy vir Samu Kerevi getêkkel het.

Patchell het self 14 punte aangeteken.

Die Aussies het egter later hul voet vierkantig op die versnelpedaal gehou en lekker punte aangeteken om die telling 26 – 25 in Wallis se guns te maak.

’n Strafskop het egter die kragmeting finaal in die Sesnasies-kampioen se guns geswaai.

“Die manne verdien om fees te vier. Dit was ’n taai stryd en ’n goeie sege,” het Wallis se breier, Warren Gatland, ná afloop van die wedstryd gesê.

Daarteenoor was Australië se Michael Cheika krities oor die wyse waarop Romain Poite die wedstryd hanteer het.

Daar is vrese dat Biggar harsingskudding opgedoen het, maar Wallis se spanbestuur is vol vertroue dat hy gereed sal wees vir hul volgende kragmeting. Die Rooi Drake speel oor nege dae teen Fidji.

Wallis is tans onoorwonne in Groep D.

Puntemakers:

Wallis: Drieë: Hadleigh Parkes, Gareth Davies. Doelskoppe: Dan Biggar, Rhys Patchell. Strafskoppe: Patchell (3). Skepskoppe: Biggar en Patchell.

Australië: Drieë: Adam Ashley-Cooper, Dane Haylett-Petty, Michael Hooper. Doelskoppe: Matt To’omua (2). Strafskoppe: Bernard Foley, To’omua.

  • Vroeër in die dag kon Uruguay nie hul Fidji-heldedade teen Georgië herhaal nie en die Oos-Europeërs het 33 – 7 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swartwolf ·

Goeie wedstryd. Fantastiese dissipline min strafskoppe en klipharde spel. Michael Hooper en Alun Wynn-Jones voorbeelde van wereld klas kapteiskap. Dink bokke sou teen albei spanne verloor het op die dag.

Laetitia ·

Het die wedstryd baie geniet. Die skeidsregter het net te veel gepraat. Hy is tog immers die een met die fluitjie.

Louis ·

Goeie wedstryd en sien uit na die uitklop wedstryde
Elke span het net een geleentheid om te wys wat hulle het

jonathan ·

Ai as die ref nie praat nie kla jul nou prt hy te veel ” Regtig ”
Brilliant game

Nico K ·

Ek was verbaas dat Australië die laaste skop uitgeskop het nie. Wou hulle liewer ‘n bonuspunt kry? Ek dink ‘n wen was baie belangriker vir hulle en hulle moes liewer die bal lewendig gehou het. Met ‘n bonuspunt gaan hulle waarskynlik steeds 2de in die afdeling eindig.

Therese van Schalkwyk ·

Skitterende naelbyt-wedstryd!
Altyd so bietjie jammer as die verloorspan meer drieë as die wenners druk, maar in hierdie geval het Wallis darem die wen verdien met nie een nie, maar twéé skepskoppe.
Mal oor skepskoppe!

Anoniem ·

Ek verkies nog steeds ‘n lelike wen bo ‘n mooi verloor.

SjN ·

Goeie wedstryd gewees om na te kyk, net jammer oor n paar rare beslissings deur die skeidsregter.

Frans C ·

Wonder wie se idee dit was om na die wedstryd Bonnie Tyler It’s A Heartache oor die luidsprekers te speel,net om nog meer sout in die Aussies se wonde te vryf.

En Bonnie Tyler is van-reg geraai-Wales.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.