Skok en verrassing in Europese kampioenskap

ʼn Skok enersyds en verrassende sterk teenstand andersyds het verseker dat Saterdag se wedstryde in Rugby Europa se kampioenskap alles behalwe na verwagting verloop het.

In Belgrado het Serwië die beter geagte Oostenryk oortuigend met 29-12 verslaan, en daarmee die Oostenrykers se kans bederf om Afdeling 2 Suid te wen, en die kroon op ʼn skinkbord aan Bosnië en Herzegovina besorg.

Laasgenoemde wag nou dat Afdeling 2 Noord beslis word, om sy teenstander in ʼn uitspeelwedstryd te bepaal.

Denemarke het Saterdag die voortou in dié afdeling geneem deur Estland met 75-12 te verniel, maar Hongarye blaas in sy nek, en dié se vertoning eerskomende Saterdag teen Finland sal die wenner bepaal.

Denemarke is een ligapunt voor, maar het sy verpligtinge afgehandel.

In Afdeling 1 Suid het Malta benoude oomblikke beleef toe hy verbasende sterk teenstand van Kroasië, 14 plekke swakker gekeur, ervaar het.

ʼn Strafdoel kort voor die einde het hom in staat gestel om ternouernood met 14-14 gelykop te speel, en sodoende die afdeling te wen.

Sy teenstander in die uitspeelstryd sal waarskynlik Tsjeggië wees, wie se oorblywende wedstryd teen die agteros in Afdeling 1 Noord, Luxemburg, is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.