Skok én verrassing om Afrika se Silwerbeker

Die dubbeldoortoernooi om Afrika se Silwerbeker het Saterdag ʼn enorme skok in Mufulira, Zambië, én ʼn groot verrassing in Toulouse, Frankryk, opgelewer.

Zambië (71ste op die wêreldranglys) het Madagaskar (45ste) in The Leopard’s Cage, Mufulira, met 31-29 getroef om sy plek in die eindstryd om die beker te bespreek.

In die Alain Coulon-stadion, Toulouse, het die ongekeurde Algerië – hy is nog nie ʼn volle lid van Wêreldrugby (WR) nie – eweneens die eindstryd gehaal deur Ivoorkus (50ste) met 23-13 te klop.

Die eindstryd tussen die twee is vir 25 Augustus vasgestel, maar die plek moet nog bepaal word.

Sowel Zambië as Algerië is vanjaar eers tot die reeks bevorder, nadat hulle verlede jaar onderskeidelik die Suidelike en die Noordelike Afdeling van Rugby Afrika se Bronsbeker-toernooi gewen het.

Madagaskar het Botswana vroeër vandeesweek met 64-18 onder stof geloop, en Zambië het dieselfde span met 32-13 reggesien.

In die veel mededingender Noordelike Afdeling het Ivoorkus met 25-21 en Algerië met 22-21 teen Senegal gewen. Laasgenoemde het verlede jaar nog in die reeks om die Goue Beker gespeel.

Verlede jaar se Silwerbekerwenner, Marokko, is tot die Goue Beker-afdeling bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.