Skokbewering oor All Blacks en kokaïen gemaak

Eliota Fuimaono-Sapolu – weer omstrede. (Foto: Twitter)

ʼn Skokkende bewering oor die misbruik van kokaïen deur van die voorste All Blacks is deur ʼn gewese Samoaanse toetsspeler op Twitter gedoen.

Eliota Fuimaono-Sapolu se boodskap het aangedui dat “vragte balspelers” dit doen. “Hope in Superrugby, insluitende van jul gunsteling-All Blacks.”

Hy het gereageer op ʼn Twitter-boodskap deur ʼn Walliese rugbyskrywer wat opgemerk het dat die Wallaby Karmichael Hunt sy loopbaan verwoes deurdat hy ʼn tweede keer met “snuif” betrap is.

Die uitgesproke Samoaan het voorts op Twitter beweer dat hy al “kokaïen-aangedrewe” toetse dopgehou het.

Fuimanoa-Sapolu, ʼn prokureur, het Samoa van 2005 tot 2012 in 23 toetse as senter verteenwoordig.

Hy was by 2011 se Wêreldbekertoernooi in die pekel toe hy die Walliese skeidsregter Nigel Owens, eweneens op Twitter, platvloers as “rasisties bevooroordeeld” bestempel het nadat Suid-Afrika op omstrede wyse met 13-5 teen Samoa gewen het

Fuimanoa-Sapolu het destyds eenvoudig die tugkomitee se dagvaarding geïgnoreer, maar is later vir ses maande, opgeskort vir twee jaar, geskors.

Die Nieu-Seelandse rugbyskrywer Mark Reason skryf op die webwerf Stuff.co.nz dat daar ongetwyfeld ontsteltenis sal wees omdat All Blacks sonder enige stawende getuienis beswadder word, “maar die afgelope 12 maande het die polisie Kevin Proctor, Jesse Bromwich, Karmichael Hunt, James O’Connor en Ali Williams betrap, almal klaarblyklik by die koop van kokaïen betrokke”.

Proctor en Bromwich is Nieu-Seelandse ligaspelers, Hunt en O’Connor Wallabies, en Williams het die All Blacks in 77 toetse verteenwoordig.

Die Nieu-Seelander John Hardie wat toetsrugby vir Skotland gespeel het, is verlede jaar weens beweerde kokaïen-gebruik geskors.

“Bereken die waarskynlikheid,” skryf Reason. “Die polisie het die meeste van die spelers gevang, nie dwelmtoetsers nie. Kokaïen is binne twee tot vier dae uit die stelsel uit, en slegs follikeltoetsing sal dit aantoon, iets wat Wêreldrugby nie wil doen nie.

“Die spelersvakbond help party [spelers] met berading en behandeling, maar sal nooit die name laat uitlek nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veritas ·

Te veel geld en te min verstand. Elke Jan Rap en sy maat is bewus van die gevaar van kokaïne maar tog snuif die jongmans, wat kwansuis ‘n voorbeeld aan die jongmense moet stel, die gemors in hul neuse op. Hoe onnosel kan mens wees. Sovêr dit my aangaan, het ‘n gomsnuiwer wat by ‘n robot staan en bedel, dalk nog rede om homself aan verdowing oor te gee maar rugbyspelers verdien groot geld en daar is geen verskoning anders as onnoselheid nie.

Rupert Ashford ·

Ware woorde Veritas. Kokaien is die rykmansdwelm en veral sg “sportsterre” word toegegooi met geld en bewondering op baie jong ouderdom en dan sak die muishonde toe om hulle geld te vat (amper soos die versekeringsmouse maak met die outjies wat pas in hulle eerste werk instap.;-)). Australieseen NZ League, Aussie AFL spelers en Amerikaanse groot sporthelde (basketbal, NFL, baseball) is vrot van die dwelmgebruik – ‘n baie bekende wereldgolfspeler is ook so paar jaar gelede vir omtrent 6 maande uit die sport om “persoonlik probleme” op te los – lyk of hy dit oorkom het want sedert sy terugkeer is hy ‘n masjien. Daar is geen rede om te dink dat rugby en krieket (ook onder Suid-Afrikaners) sal 100% skoon wees nie so hierdie storie oor die All Black spelers sal my nie verbaas as dit die waarheid is nie.

juan ·

AB’s sal nooit so iets doen nie – hulle was vurige vegters vir demokrasie in SA voor 94. lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.