Skole vier rugby met unieke vroegoggend-stryd

Vroegoggend-rugbyplesier wag op Bekker en Fochville se eerstespanspelers. Foto: Johan Wandrag.

Hulle is nog op skool – bêre dus die lawaaiwater – maar Hoërskool Bekker en Hoërskool Fochville se eerstespanrugbyspelers verdien ongetwyfeld die lekkerste en beste beker koffie in die land.

Die twee skole pak mekaar Vrydag om 05:00 in Suid-Afrika se eerste mededingende skolewedstryd in meer as ’n jaar.

En terwyl jy fronsend na jou horlosie kyk; die wedstryd was aanvanklik vir 00:01 op dieselfde dag geskeduleer, maar die aandklokreël het ’n stokkie daarvoor gesteek.

“Die spelers sien ongelooflik uit na die wedstryd. Ons was verlede jaar net twee keer in aksie en die ouens wou só graag speel,” het Johan Wandrag, Bekker-afrigter, aan Maroela Media gesê.

Volgens Wandrag het sy spelers volstoom begin oefen toe die nodige toestemming verkry is. Van die spelers het egter begin moed verloor toe daar gereeld en noodgedwonge aan die wedstrydbepalings verander is.

“Hulle het begin dink ons gaan nooit speel nie en dan is ’n moontlike derde Covid-19-golf ook in die agterkop. Die plan was ’n verrassing vir hulle en hulle kan nie wag om te speel nie!”

Bobby McLeod, Fochville-breier, het Dinsdagmiddag nog proewe gehou, maar Woensdagoggend vroeg was sy spanlys bekend. Dewan Delport (flank) sal die span aanvoer.

“Die spelers is geweldig opgewonde. Ek dink Bekker se ouens is ons aartsvyande op die rugbyveld, maar hulle is terselfdertyd ook ons beste vriende. Dit is ’n unieke gebeurtenis en ons sou aanvanklik om die Midnight-beker gespeel het, maar die Sunrise-beker is ’n lekker plaasvervanger en ons wil hê dit moet ’n jaarlikse instelling word,” het McLeod gesê.

Die wedstryd word ook opgedra aan verlede jaar se matrikulante wat in hul laaste skooljaar net in ’n handjievol wedstryde kon speel.

Maar hoe vroeg sal hulle moet opstaan?

“Ons almal slaap hier: Fochville, Bekker en die media ook. Ons beplan om so 03:30 op te staan, iets te eet en seker om 04:15 te begin opwarm.”

Ja, dit is vroeg, maar die spelers is uitgehonger om te speel. En in die onsekerheid van die Covid-19-era is te vroeg dalk beter as te laat.

Die wedstryd sal regsteeks op DigiTV uitgesaai word.

Bekker: Thabang Ndolvu (heelagter), Khulile Ndondo (regtervleuel), Kgomotso Dikotsi (buitesenter), Keletso Maubane (binnesenter), Mhlanta Cholani (linkervleuel), Niel Buitendag (losskakel), Hentie Fourie (skrumskakel), Junior Dantjes (agtsteman), WJ Grobler (flank), Jano du Plessis (flank), Johannes Wandrag (slot), Enrico Malan (slot), Christo Kotzé (stut), Lwazi Boyce (haker) en Siyabonga Mkhabela (stut). Plaasvervangers: Kevin Ndlovu, Offentse Segabutla, Temoso Matlala, Themba Zulu, Luan Potgieter en JJ Labuschagne.

Fochville: Marné Theron (heelagter), Lukisang Mofokeng (regtervleuel), Samuel de Villiers (buitesenter), Riaan van Heerden (binnesenter), Tristan Leggat (linkervleuel), Ryan Loots (losskakel), Jacques van Heerden (skrumskakel), James Watermeyer (agtsteman), Dewan Delport (kaptein en flank), Jan Els (flank), Ryno Koekemoer (slot), Ruan Meyer (slot), JJ van Zyl (stut), Wian Gibbens (haker) en Stanley Bennet (stut). Plaasvervangers: Marchelle Strydom, Kobus Knoetze, FC van den Berg, Hugo van der Merwe, Ryan Kemm, Tiaan Louw, Julian Rheeder, Nathan van der Walt, Wian Groenewald, Hanro Nortjé en Kian Kruger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakes

Ek neem aan dat die veld goed belig sal wees anders gaan die manne in die donker vroetel.

Oom Kaspaas

Ek verstaan nogsteeds net nie die toeskouer storie nie. Daar mag buite byeenkomste gehou word met 500 mense … as die 2 spanne + hulle afrigters ‘n groep van 30 is = 60 mense. Elke speler se 2 ouers 26 + 21 x 2 = 94 plus Skeidsregter en 2 assistente = 157 mense. Dis nog verskriklik ver van 500 mense wat daar mag wees volgens die vlak 1 regulasies. Wat verskil die wedstryd van enige ander byeenkoms in die buitelug ?

Santie Gildenhuys

Lieflike foto en heerlike skryfstyl! Die môrestond het goud in die mond. Draf uit en … blink!