Skoleafrigter se hart klop warm vir rugby, spelers

Cobus van Dyk. Foto: Verskaf.

In die uitsonderlike tye waarin ons leef, kan dit moeilik wees om opgewonde te raak oor Suid-Afrikaanse sport. Die wêreldwye Covid-19-pandemie en politieke inmenging is volgens baie ondersteuners die twee spykers in die land se sportdoodskis wat die seerste maak.

Maar gelukkig is daar nog skoleafrigters soos Cobus van Dyk, ’n man wie se passie en liefde vir rugby selfs in ’n doodgewone WhatsApp-boodskap duidelik te bespeur is.

Van Dyk is die adjunkhoof van sport by Hoërskool Waterkloof in Pretoria en een van die skool se eersterugbyspan-afrigters. Dan is hy ook die voorspeler-afrigter van die SA Skole-span.

“Ek glo dat rugby meer as net ’n sportsoort is, dit is amper ’n leefwyse. Die moeilike situasies van ’n dag beskou ek as têkkels: Hoewel daar ongetwyfeld kere gaan wees waar jy ’n duikslag of twee gaan mis, kry jy altyd weer die geleentheid om dinge reg te maak en beter te speel,” laat weet hy vroeër die week ná nog ’n besige skooldag propvol vergaderings.

Kom ons vra egter ’n vraag waarvan die antwoord ’n paar jaar gelede byna ondenkbaar sou gewees het: Gaan daar skolesport in 2020 wees?

“Ek glo dit is veilig om te sê dat daar in 2020 geen skolerugby sal wees nie. Ons mikpunt is nou om weer in klein groepies te begin oefen om die ouens se vaardighede aan die gang te kry. Hopelik kry ons met vlak 1 die nodige toestemming.”

Volgens Van Dyk is die verlenging van die skooldag dalk een van die moontlikhede om skolesport in die Covid-19-era te beoefen.

Leerders se temperatuur is immers reeds met hul aankoms by die skool geneem, ’n rits vrae is beantwoord en handreiniger is vrylik beskikbaar; as dinge reg bestuur word, kan skolesport veilig beoefen word.

Ter illustrasie. Foto: GB Jordaan.

Toeskouers by wedstryde sal seker vir eers buite die kwessie wees.

“Spelers wat hul rugby ernstig opneem, het nou die geleentheid gehad om aan hul vaardighede te skaaf. Hulle kon aan daardie aspekte van hul spel werk waaraan afrigters nie altyd die kans kry om aandag te gee nie. Vir die matriekmanne is dit belangrik om nou nie net op die groot universiteite en provinsiale spanne te konsentreer nie; soek eerder ’n instansie waar jy gereeld speelkans kry en jouself kan bewys.”

Sy raad vir mismoedige spelers en hul ouers is eintlik eenvoudig: Probeer om op jou liefde vir die spel te fokus.

“Die skolespelers moet probeer om nie toe te laat dat dinge buite rugby hul aandag van die passie en tradisie van die spel in Suid-Afrika aftrek nie.”

Terselfdertyd is hy ook opgewonde oor die vooruitsig dat Suid-Afrikaanse spanne moontlik in Europa sal speel.

Van Dyk, agter heel regs, saam met die SA Skole-groep. Foto: Verskaf.

Plaaslike skolespelers se fisieke grootte en krag word goed deur hul flair en daardie tikkie kreatiwiteit ondersteun. Eienskappe wat, ná ’n paar groeipyne in die beginstadium, Europese rugby soos ’n handskoen sal pas.

Van Dyk kan nie wag om weer sy fluitjie op die oefenveld te blaas nie. Hy verlang na die spelers wat met blink oë by ’n oefening opdaag, die geselsies en die wisselwerking met ander afrigters.

“Covid-19 is ’n moeilike en uitdagende tydperk, maar dit is ook ’n wonderlike ontwikkelingsgeleentheid vir afrigters. Nie net wat tegniese detail betref nie, maar ook ten opsigte van hoe jy meer doeltreffend met die spelers kan werk. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het die ouens weer moeite gedoen om met mekaar te gesels en by mekaar leer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daleen ·

My hart bloei vir die seuns wat nie hierdie jaar kon rugby speel en die toernooie soos Craven week ens genis het. My seun was ook rugbymal en hy het gelewe vir sy rugby. As die lewe gedruk het het hy bal gaan skop as hy gelukkig was het hy bal gaan skop as hy hartseer was het ou “blou girl” sy blou duiksak dit ontgeld. En saterdae was hy dou voor dag op want dis wedstryddag. Ek bid dat julle gou weer julle “terapie” kan begin doen want dit is wat dit vir baie seuns is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.