Skopstryd tussen SA losskakels in Frankryk

Danré Gerber – 14 punte. (Foto: Mont de Marsan)

Twee losskakels uit Suid-Afrika was Sondag in ʼn skopstryd gewikkel in die jongste ronde van die Franse Pro D2-reeks.

Danré Gerber het op die ou end die botoon gevoer en sy span, Mont de Marsan, het Perpignan met 44-20 geklop.

Hy het met vier doelskoppe en twee strafdoele geslaag om 14 punte op die telbord te plaas.

Jacques-Louis Potgieter se twee doelskoppe en twee strafdoele het Perpignan tien punte besorg.

Gerber, die seun van die beroemde Springbok Danie Gerber, het Curriebekerrugby vir die Boland gespeel en Potgieter het Supperrugby vir die Bulls, die Cheetahs en die Stormers gespeel.

Suid-Afrikaners se pogings het 19 punte opgelewer in Bayonne se oorwinning van 41-12 oor Soyaux-Angouleme.

Willie du Plessis, die losskakel en ʼn gewese Cheetahs-speler, het nes Gerber 14 punte behaal; in sý geval met ʼn doelskop en vier strafdoele.

Sean Robinson (buitesenter), wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir die wenspan gedruk.

Nóg ʼn gewese Bolandse Curriebekerspeler, Coenie Basson (slot), het ʼn rooi kaart gekry in ʼn wedstryd wat ook vyf geles opgelewer het. Sy span, Nevers, het darem met 22-12 teen Carcassonne gewen.

Die gewese Sharks-speler Claude Dry (slot) was een van drie spelers van Montauban wat geel kaarte in hul span se wedstryd teen Colomiers gekry het.

Laasgenoemde het met 34-3 gewen.

Fédérale 1-liga

Eugene van Staden, ʼn plaasvervanger-stut van Tyrosse, het ʼn drie vir sy span in dié se sege van 32-10 oor Nantes in die Fédérale 1-liga gedruk.

Hy het die Sharks in die Superrugbyreeks verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê AP
Dankie vir die boodskap. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.