Skotland bo teen Poemas in wedstryd vol foute

In ʼn wedstryd wat gewemel het van ongedwonge foute was Skotland net daardie rapsie beter met die kanse wat hulle aangegryp het en veral met hulle beter skopwerk pale toe.

Die Skotte van Greig Laidlaw het Saterdag in die wedstryd sonder veel hoogtepunte en min goeie rugby weer op die wenpad gekom ná die neerlaag verlede naweek teen die Springbokke toe hulle Argentinië met 14-9 geklop het en hul negende oorwinning in tien wedstryde op Murrayfield behaal.

Skotland het die enigste drie in die wedstryd gedruk.

Hulle was rustyd naelskraap met 6-3 voor. Argentinië het sake net ná rustyd gelykop gemaak, en toe het Skotland sowat tien minute later weer die voortou met hulle derde strafdoel geneem voordat ʼn goeie drie deur die vleuel Sean Maitland ná hardloopwerk deur die heelagter Stuart Hogg gevolg het.

Nicolás Sánchez, wat met sy skopwerk gesukkel en drie pogings pale toe verbrou het, het die gaping vernou, maar die voortgesette foute aan albei kante in die ietwat teleurstellende maar klipharde wedstryd het bygedra dat die Poemas nie die agterstand kon inhaal nie.

Puntemakers ‒

Skotland (6) 14: Drie: Sean Maitland. Strafdoele: Greig Laidlaw (3)
Argentinië (3) 9: Strafdoele: Nicolás Sánchez (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.