Skotland klop die Wallabies

Skotland tydens ‘n oorwinning in Februarie vanjaar. (Foto: Scottish Rugby)

Die Skotse span gaan stert in die lug wees wanneer hulle volgende Saterdag teen die Springbokke uitdraf. Hulle het die Australiërs gister op Murrayfield met 15-13 geklop.

Dit het ook die Wallabies se vyf agtereenvolgende oorwinnings tot ʼn einde gebring.

Die Skotte het nie ʼn tree teruggestaan vir die besoekers nie en dit was ʼn fel stryd voorlangs. Die tuisspan het ook goed gelyk op die aanval, maar kon dit nie in punte omskakel nie. Hanteerfoute op kritieke oomblikke het ook belowende aanvalle in die wiele gery.

Hamish Watson het die enigste drie in die eerste helfte gedruk en die Wallabies moes tevrede wees met net ʼn strafskop om die rustydtelling 7-3 in die tuisspan se guns te maak.

Rob Leota het die Wallabies laat voorloop met ʼn drie in die 45ste minuut.

Plaasvervanger haker Ewan Ashman het in sy eerste wedstryd vir die Skotte gaan druk in die tweede helfte. James O’Connor se strafskop het die besoekers weer met 13-12 laat voorloop, maar die tuisskare het die Skotte aangevuur. Losskakel Finn Russell het ʼn strafskop oorgeklits en die skare het gebrul van plesier met nog twaalf minute oor.

Dit was alles behalwe aanskoulike rugby en die Bokke sal in die beeldmateriaal die Skotte se tekortkominge gaan probeer identifiseer. Hulle kan weer voorlangs, soos teen Wallis, ʼn fel stryd verwag.

Die Wallabies moet nou vinnig hulle wonde lek en die nederlaag agter hulle sit. Volgende Saterdag speel hulle teen Engeland op Twickenham.

Puntemakers:

Skotland 15 (7)

Drieë: Hamish Watson, Ewan Ashman

Doelskoppe: Finn Russell

Strafskop: Fin Russell

Australië 13 (3)

Drie: Rob Leota

Doelskop: James O’Connor

Strafskoppe: James O’Connor (2)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Aitsa! Bly vir die Skotte – met hulle weer is daar oor die algemeen maar min om te vier. Hoop net die grootbek Gifappels wen volgende week die bleekbene. Die konsternasie op Engelse gesigte (wanneer hulle gereeld strate swakker is as wat hulle in die ‘pub over a pint’ opgepraat word) is altyd iets om te waardeer.

KB

Wie is Australië nou weer?
O ja, daai klomp grootbekke van die Suidsee…

N

Bly om te sien klomp boerseuns maak die span op meriete. Geen rasse en politieke inmenging in die span nie