Skotland se Hollie maak Sesnasies-buiging

Skotland se Hollie Davidson. (Foto: Patricia de Melo Moreira/AFP)

Hollie Davidson sal die eerste vrou word wat as assistent-skeidsregter in ʼn Sesnasies-wedstryd optree wanneer Engeland teen Wallis op Twickenham uitdraf.

Die 31-jarige Skot was vroeër onder meer in beheer van die Wêreldbeker-eindstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland se vrouerugbyspanne.

“Dit is ʼn baie groot eer om as een van die assistent-skeidsregters in die Sesnasies-toernooi aangewys te word. Om die eerste vrouewedstrydbeampte te word wat só ʼn prestasie vermag, is iets waarop ek baie trots is,” het Davidson gesê.

Andrea Piardi sal ook die eerste Italianer word om in beheer van ʼn Sesnasies-wedstryd te wees wanneer hy in Februarie wet en orde in die kragmeting tussen Ierland en Wallis toepas.

Suid-Afrika se Jaco Peyper is op 9 Maart in aksie wanneer Italië teen Skotland in Rome speel. Marius van der Westhuizen is die televisie-skeidsregter in dieselfde kragmeting.

Sesnasies-bepalings:

2 Februarie: Frankryk teen Ierland in Marseille

3 Februarie: Italië teen Engeland in Rome; Wallis teen Skotland in Cardiff

10 Februarie: Skotland teen Frankryk in Edinburgh; Engeland teen Wallis in Londen

11 Februarie: Ierland teen Italië in Dublin

24 Februarie: Ierland teen Wallis in Dublin; Skotland teen Engeland in Edinburgh

25 Februarie: Frankryk teen Italië in Lille

9 Maart: Italië teen Skotland in Rome; Engeland teen Ierland in Londen

10 Maart: Wallis teen Frankryk in Cardiff

16 Maart: Wallis teen Italië in Cardiff; Ierland teen Skotland in Dublin; Frankryk teen Engeland in Lyon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Nou moet julle passop, vrouens is baie meer oplettend as mans:) veral op foute;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.