Morné Steyn het skaars die Bulls se noodkreet beantwoord, of die oorsese media berig reeds oor die veteraan losskakel.
Die 37-jarige speler is weer by die Pretoriase span in Europa nadat Johan Goosen verlede week sy knie teen die Cardiff Blues beseer het.
Mike Blair, Edinburgh-afrigter, het Steyn se lof besing en veral teen sy skopvermoë – hetsy as stelskopper of op die aanval – gewaarsku.
“Hy is soos ’n Rolls-Royce en ek dink hy kan nog vir ’n paar seisoene rugby speel. Hy is die Bulls se dirigent wat sorg dat die spelers op die regte plek op die regte tyd is,” het Blair gesê.
Tog glo die Skotse breier dat Chris Smith waarskynlik die no. 10-trui sal dra, met Steyn op die plaasvervangersbank.
Die 27-jarige Smith het juis sy stempel teen Cardiff afgedruk toe hy Goosen vroeg in die wedstryd vervang het. Hy was uiteindelik in die kol met vyf strafskoppe en twee doelskoppe om 19 van sy span se punte aan te teken.
“Maar ’n span kan seker swakker spelers op die plaasvervangersbank as Morné Steyn hê.”
Steyn het vroeër vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer die Britse en Ierse Leeus se drome gekelder om ’n reeks teen die Springbokke te wen toe hy ’n strafskop in die doodsnikke van die derde toets oor die dwarslat gejaag het.
Maar hoewel Handré Pollard in die daaropvolgende wedstryde in die Rugbykampioenskap gesukkel het, het Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) nie weer van die ervare losskakel se diens gebruik gemaak nie.
Sy teenwoordigheid in die Bulls-groep kan die Pretorianers egter ’n hupstoot gee – Blair is juis van mening dat die Suid-Afrikaners besig is om hul voete in Europa te vind.
“Die Bulls het ’n paar reuse in hul span. Ek het Dai Young (Cardiff-afrigter) se stelling gelees dat hulle die grootste span is wat hy nog ooit gesien het. Dit maak nie saak of ons teen Morné Steyn of Chris Smith te staan kom nie, ons sal ons storie moet ken om hul aanslag af te weer.”
Die Bulls speel Saterdag om 18:15 teen Edinburgh en die wedstryd sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
Look who’s back ???? Morne Steyn is on his way to join up with the squad ????#TrueToTheBlue pic.twitter.com/spFQ1msNVt
— Official Blue Bulls (@BlueBullsRugby) October 12, 2021
Na my mening tans no1 in SA, Pollard is die kluts kwyt.
YAY Mornay