Skotse rugbybaas slaan SA bande hoog aan

John Rutherford (Foto: YouTube)

John Rutherford (Foto: YouTube)

`n Skotse rugbybaas en eertydse legendariese toetslosskakel van dié land het Maandag sy klub se bande met Suid-Afrikaanse rugby as `n eer bestempel.

Kragtens `n ooreenkoms tussen die SA Rugbyunie, die Britse Hoëkommissariaat in Suid-Afrika en die klub Selkirk kry van Suid-Afrika se belowendste klubspelers die afgelope paar jaar die geleentheid om hul vernuf by die klub te gaan slyp.

Die beste voor- en agterspeler van die oop klubs se afgelope reeks om die Goue Beker, Ian Oosthuizen (Brakpan) en Tythan Adams (College Rovers), is tans in dié opsig Selkirk se gaste.

Rutherford sê in `n verklaring wat deur die SA Rugbyunie (Saru) in Kaapstad uitgereik is dat Selkirk sy rol as gasheer ernstig bejeën en seker wil maak dat die besoek `n besonderse ervaring op en van die veld sal wees.

“Ian en Tythan het goed op die veld vertoon, skakel goed by die span in, en is gewild by ons ondersteuners.

“Hulle is genooi om van nou af tot die einde van die seisoen saam met Edinburg te oefen en ek glo dit sal hul ervaring van rugby en die lewe in Skotland verbreed.”

Die tweetal behoort nie te vreemd in Edinburg te voel nie. Die klub spog reeds met vier Suid-Afrikaners in WP Nel, Allen Dell, Cornell du Preez en Anton Bresler.

Adams is ná slegs ses wedstryde (die klub het dusver vanjaar 20 gespeel) met sewe kuiers agter die doellyn vierde op die klub se lys van driedrukkers.

Oosthuizen blink as flank uit al is sy voorkeurposisie haker, en was al `n slag die speler van die wedstryd.

 Rutherford het van 1979 tot 1987 in 43 toetse gespeel (een vir die Britse en Ierse Leeus in 1983), maar vanweë die internasionale sportboikot teen Suid-Afrika nooit in `n toets teen die Springbokke kragte gemeet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.