Skotte dis ‘Finn-dingryke’ spel op

Kyle Steyn en Finn Russell vier een van Skotland se drieë teen Wallis. Foto: Andy Buchanan/AFP.

Party kommentators noem hom die “koning van Murrayfield”, terwyl Rassie Erasmus al vantevore gesê het dat hy elke keer vir Handré Pollard bó hom sal kies omdat hy wedstryde wil wen.

Hoe dit ook al sy, Finn Russell het gisteraand ʼn meesterlike vertoning in Skotland se Sesnasiesoorwinning van 35- 7 teen Wallis in Edinburgh opgedis.

Die 30-jarige losskakel was ʼn doring in die Rooi Drake se vlees en sy kreatiewe skoppies en aangeewerk het tot ʼn paar van die tuisspan se drieë bygedra.

Duhan van der Merwe het weer eens met ʼn paar kraglopies beïndruk, maar dit was Kyle Steyn – die Skotte se ander Suid-Afrikaans gebore vleuel – wat met sy driedrukvaardighede uitgeblink het.

Dit is die eerste keer dat ʼn Skotse span daarin kon slaag om ʼn Rooidraakspan te klop wat deur die uitgeslape Warren Gatland afgerig is.

Tussen 2008 en 2019 het Gatland die septer in 11 van die tweestryde geswaai.

Nodeloos om te sê was Gregor Townsend vol lof vir Russell ná die afloop van die wedstryd gewees.

“Wanneer hy op sy beste is – veral wat sy fokus en mededingendheid betref – sal hy met sulke vertonings vorendag kom. Sy besluitneming was uitstekend en sy skoppies na ons vleuels het soos ʼn bom gewerk,” het die Skotland-afrigter gesê.

Dit is moeilik om te glo dat die doedelsakblasers verlede jaar vir Russell uit hul groep gelaat het. Kwansuis omdat hulle ander spelers se spel en bestendigheid wou beloon.

“Finn is ʼn speler van wêreldgehalte en ons weet dat wanneer ons as ʼn span op ons stukke is, ons vir hom ʼn platform gee om sy beste rugby te speel,” het ʼn tevrede Jamie Ritchie (kaptein) gesê.

  • Sesnasies-punteleer:
  1. Ierland: 10 punte
  2. Skotland: 10 punte
  3. Frankryk: 5 punte
  4. Italië: 1 punt
  5. Engeland: 1 punt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.