Skotte gee pas aan in VRK

Munster het op Thomond Park in Limerick sy armdrukstryd teen Ulster met 18-13 gewen. (Foto: URCOfficial/Twitter)

Die twee Skotse spanne, Edinburgh en die Glasgow Warriors, het Saterdag na vore getree as van die sterkte aanspraakmakers in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Edinburgh, gelaai met ses Suid-Afrikaners (Henry Immelman, Jaco van der Walt, Pierre Schoeman, WP Nel, Boan Venter en Luan de Bruin) en twee Argentynse toetsspelers (Emiliano Bofelli en Ramiro Moyano) in hul 23-tal, is die nuwe voorloper in die reeks nadat hy Cardiff met 34-10 in ʼn bonuspuntoorwinning geklop het.

Edinburgh (33 punte ná agt wedstryde) het die voortou by Leinster (29 punte) oorgeneem, wat nie in aksie was nie.

Die Warriors (26) het tot die vierde posisie ná Edinburgh, Leinster en Ulster opgeskuif nadat hulle die Walliese Ospreys op Scotstoun met 38-19 geklop het. Die Warriors het net soos Edinburgh ook vyf drieë vir hul bonuspuntoorwinning gedruk.

Munster het op Thomond Park in Limerick sy armdrukstryd teen Ulster met 18-13 gewen ondanks die feit dat die vleuel Simon Zebo in die 65ste minuut met ʼn rooikaart afgestuur is.

Slegs drie wedstryde is in die VRK-reeks gespeel weens die Covid-19-pandemie en dit het die kaarte behoorlik deurmekaar gekrap.

Vir Skotse rugby was die vertonings van hul twee spanne egter soos manna uit die hemel. Albei spanne speel teen ʼn vinnige tempo, het voorspelers wat die basiese beginsels reg uitvoer en genoeg besit verseker en snellers agterlangs wat die bresse kan slaan.

Maar daar hang vrae oor die Skotte se diepte wanneer die Sesnasies-reeks begin. Gaan hulle dan ook die pas kan volhou?

Dis sekerlik hoekom dié spanne soveel buitelanders nadergetrek het.

Puntelys (onder wedstryde gespeel, gewen, gelykop, verloor, bonuspunte en ligapunte)

Edinburgh  8  6  1  1  7  33

Leinster      7  6  0  1  5  29

Ulster         8  5  0  3  6  26

Glasgow     8  5  0  3  6  26

Munster     7  5  0  2  4  24

Ospreys      9  5  0  4  2  22

Benetton    8  4  0  4  5  21

Connacht    8  4  0  4  4  20

Scarlets       6  3  0  3  4  16

Cardiff         6  3  0  3  2  14

Lions            5  2  0  3  3  11

Sharks          5  2  0  3  1  9

Dragons       7  1  0  6  5  9

Stormers      5  1  1  3  1  7

Bulls             5  1  0  4  1  5

Zebre           6  0  0  6  0  1

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.