Skotte knak Franse in die laaste kwartier

Dit was een van daardie wedstryde wat jy as buitestander gehoop het gelykop sal eindig omdat nie een van die spanne verdien het om te verloor nie.

Maar Skotland, onteenseglik die beste span in die laaste 20 minute of so, het Sondag van ʼn agterstand van ses punte met druk die Franse tot foute gedwing en in die laaste kwartier nege punte aangeteken om sodoende met 32-26 op Murrayfield te wen.

Frankryk se Jacques Brunel het gewys wat ʼn goeie afrigter binne minder as twee maande kan verrig met struktuur en ondersteuning, maar die Franse het weer, nadat hulle soos teen Ierland in die laaste oomblikke verloor het, teen die einde uitgesak.

Skotland het in die 71ste minuut die eerste keer die voortou geneem nadat Frankryk in die eerste 60 minute so ʼn rapsie beter daaraan toe was en verdien het om op die telbord die pas aan te gee.

In die laaste kwartier het die ware Skotland, wat die Wallabies in Desember verinneweer maar verlede week groot pak teen Wallis gekry het, egter na vore getree.

Hulle het met durf gespeel, met inklimrugby en ondersteuning wat altyd byderhand was en het met skitterende skopwerk van Greig Laidlaw – agt uit agt – die knoop deurgehak. Hy het ses strafdoele oorgeskop in die tweede helfte, wat hard maar nie so sprankelend as voor rustyd was nie.

En moenie vir Huw Jones, oud-senter van die WP en die Stormers, vergeet nie. Hy het een van sy span se twee drieë gedruk, en het ʼn paar keer pragtig gebreek, deurgaans aansluiting gevind en bewegings aan die gang gehou.

En om te dink hy moes meestal vir Juan de Jongh en Damian de Allende terugstaan …

Frankryk is ʼn veel beter span as die lot wat verlede jaar drie keer in Suid-Afrika en een keer op die jaareindtoer teen die Bokke slae gekry het.

Daar’s nog heelwat werk, maar Brunel se troepe gaan binne die volgende paar maande in ʼn uiters gedugte span ontwikkel. Dissipline kan hul grootste vyand wees.

Puntemakers –

Skotland (14) 32: Drieë: Sean Maitland, Huw Jones,  Doelskoppe: Greig Laidlaw (2). Strafdoele: Laidlaw (6)
Frankryk (20) 26: Drieë: Teddy Thomas (2).  Doelskoppe: Maxine Machenaud (2). Strafdoele: Machenaud (2), Serin Baptiste (2).

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.