Skotte nie opgewasse teen Junior Bokke

Junior Springbokke (Argieffoto)

Die Junior Springbokke het Vrydag op Murrayfield se B-veld hulle eerste toerwedstryd ter opwarming vir die o.20-Wêreldkampioenskap teen Skotland maklik gewen.

Die Junior Bokke, wat pas tuis teen Georgië twee wedstryde gespeel en albei redelik maklik gewen het, het die Skotte met 41-3 geklop.

Hulle het sewe drieë in die koue, winderige toestande gedruk en goed aangepas nadat hulle eers Maandagaand uit Suid-Afrika vertrek het.

Die fisieke spel van die Bokke, waaraan die afrigter Chean Roux hard gewerk het, was een te veel vir die tuisspan wat nie deur die verdediging van die Junior Bokke kon dring nie. Hulle enigste punte was ʼn enkele strafdoel.

Die Juniors het goed geskrum en in die lynstane ook min foute begaan, en Roux was heel tevrede met die eerste poging in vreemde en koue omstandighede.

Puntemakers –

Junior Springbokke (17) 41: Drieë: Daniel Jooste (2), Sihle Njezula (2), Tyrone Green, Asenathi Ntlabakanye, strafdrie. Doelskoppe: Gianni Lombard (2), strafdrie-doel.
Skotland 3 (3) – Strafdoel: Cullum McLelland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.