Skotte se selfvertrouebeker loop oor

Finn Russell. Foto: Andy Buchanan/AFP.

Ná ’n paar agtereenvolgende oorwinnings moet daar Skotse rugbyondersteuners wees wat dink dat hul span reeds die Sesnasiesreeks in die sakkie het.

Die doedelsakspelende hardebaarde het onlangs verspotmaklik met Tonga afgereken, terwyl hulle verlede naweek ook te sterk vir die Wallabies in Edinburgh was. Speel hulle Saterdag met die Springbokke klaar en hul selvertrouebeker sal tot oorlopens toe vol wees.

Een van die gevaarmanne in die Skotse trui is ongetwyfeld Finn Russell.

Die 29-jarige losskakel het so byna dinge vir die Springbokke deurmekaar gekrap toe hy uiteindelik speelkans in die Britse en Ierse Leeus-reeks gekry het, terwyl hy gereeld met sy aanvallende spel beïndruk.

Hoewel hy geskerts het dat hy sy skopvoet dalk meer teen die Bokke sal inspan, weet Elton Jantjies wat om van sy moontlike direkte teenstander te verwag.

“Ons almal weet wat Finn op ’n rugbyveld kan doen en hy het ongetwyfeld ’n verskil in daardie Leeus-wedstryd gemaak. Ons sal egter steeds op ons eie spel fokus en seker maak dat ons opgewasse teen enige aanslag is. Dit is belangrik om nie net na jou teenstanders se vertonings te kyk nie, maar ook weekliks na maniere soek om self te verbeter,” het Jantjies gesê.

Die Suid-Afrikaners is natuurlik ook slim genoeg om nie net in die Finn-gevaar vas te kyk nie; Hamish Watson het met ’n sterk vertoning teen die Wallabies vorendag gekom, terwyl Kyle Steyn vier drieë teen Tonga gedruk het.

Al het die Springbokke die afgelope ses toetse teen die Skotte gewen, sal hulle steeds Saterdag hul storie moet ken. Daar sal immers duisende toeskouers wees wat hul bloed soek.

Uitslae van die Springbokke se afgelope toetse in Skotland (Suid-Afrikaners se telling eerste):

34 – 10 in 1994

68 – 10 in 1997

35 – 10 in 1998

46 – 29 in 1999

6 – 21 in 2002

45 – 10 in 2004

27 – 3 in 2007

14 – 10 in 2008

17 – 21 in 2010

21 – 10 in 2012

28 – 0 in 2013

26 – 20 in 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Siya, Kwagga en Damian wag vir jou. En as hulle moeg is kom Eben en Marx :-)

tweeling ·

Vra maar vir menige span hoe sit mens die kurkprop terug in die sjampanje bottel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.