Skotte terug in prentjie ná Samoa rooi sien

Foto: (Kyodo News via AP)

Skotland se rugbyspan het in Kobe, Japan, die agterdeur oopgehou om steeds vir die kwarteindronde van vanjaar se Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer en in die proses dalk die deur in Samoa se gesig toegeklap.

Die Skotte het hul wedstryd in Groep A met 34 – 0 gewen nadat hulle rustyd met 20 – 0 voor was. Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt is daar baie belangstelling in dié groep, want dis feitlik seker dat die Springbokke teen een van die spanne in Groep A in die kwarteindronde sake gaan uitspook… en dit kan Ierland, Japan of Skotland wees.

Foto: (Ichiro Sakano/Kyodo News via AP)

Die Skotte het ook ʼn noodsaaklike bonuspunt verower en is nou weer terug in die wedloop nadat hulle met 27 – 3 in hul eerste wedstryd deur Ierland afgeransel is.

Die Skotte se volgende wedstryd is eers volgende Woensdag teen Rusland, wat ʼn slaansak behoort te wees en dan wag Japan.

Samoa speel reeds Saterdag teen Japan, gevolg deur ʼn laaste kragmeting met Ierland. Sal enigiemand bereid wees om geld op die ongedissiplineerde Samoane te waag?

Hul swak dissipline het hulle weer in die steek gelaat toe die linkervleuel, Ed Fidow, ʼn rooikaart gekry het (twee geelkaarte) nadat hy met sy knieë in die Skotse vleuel Sean Maitland ingedons het terwyl hy oor die doellyn vir ʼn drie probeer seil het.

Foto: (Kyodo News via AP)

Maitland het die bal verloor, maar die skeidsregter, Pascal Gauzere, het ʼn strafdrie aan die Skotte toegeken en ʼn tweede geelkaart (wat tot die rooie gelei het) aan Fidow gewys.

Die Skotte het goed by die hitte en hoë humiditeit aangepas. Ai, hoekom word die WB-toernooi dié tyd van die jaar in Japan gespeel, kan tereg gevra?

Die Skotte het van kort aangeë gebruik gemaak en hul skakelpaar, Greig Laidlaw en Finn Russell, het die bal voor die voorspelers gehou en met taktiese skoppe die Samoane in hul eie gebied vasgepen. Dan het die voorspelers die basiese beginsels goed uitgevoer, waar Jonny Gray uitgetroon het.

Foto: (AP Photo/Aaron Favila)

Samoa se vertoning – inteendeel tot dusver dié van al drie eilandspanne (Fidji, Samoa en Tonga) – moet ʼn groot bron van kommer vir Wêreldrugby se dasdraers wees.

Passie en natuurlike talent gaan nie die spanne help om net een keer elke vier jaar behoorlik saam te trek en dan van hulle te verwag om saam te gesels nie.

Hulle sal baie meer gereeld moet saamspeel en hul beste spelers sal vir toetsrugby beskikbaar gestel moet word. Só nie gaan hulle net die getalle by WB-toernooie volmaak.

* Puntemakers:

Skotland 34 (20): Drieë: Sean Maitland, Greg Laidlaw, twee strafdrieë (albei 7 punte). Doelskoppe: Laidlaw (2). Strafdoel: Laidlaw. Skepdoel: Stuart Hogg.

Samoa 0 (0).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.