Skrum, skrum, skrum – en die grondslag is gelê

Argieffoto.

Daar is sekere dinge in rugby wat nooit sal verander nie, soos daardie eerste skrum.

Jy kan nog met ʼn swak lynstaan wegkom, want jou haker kon die bal skewerig ingegooi het.

Jy het boonop twee slotte om die bal na in te gooi, jy kan dit agterlangs na een van die lang losvoorspelers ingooi en deesdae gebeur dit al hoe meer dat daai truuk, wat laas in standerd 3 (deesdae graad 5) uitgevoer is toe die loskopstut die bal voor gewen het, weer ná jare gebruik word.

Die oudafrigter van die All Blacks en Goue Leeus, Laurie Mains, het selfs die skrumskakel Werner Swanepoel in lynstane gebruik om met die teenstanders se koppe te smokkel … en so wrintiewaar het Swanepoel boonop ʼn lynstaan gegaps omdat die voorspelers hom so hoog kon optel.

Maar wanneer jou voorry se bene in die eerste skrum wankel, is die slag geslaan.

Die Bokke het die All Blacks reeds in 1937 só vermorsel.

Die Britse Leeus het in 1974 die Springbokke in die skrums verfomfaai met Ian (Mighty Mouse) McLauchlan, Bobby Windsor en Fran Cotton in die voorry.

Ironies genoeg was McLauchlan een van die kleinste stutte in wêreldrugby (1,76 m en 92 kg), maar hy kon skrum, net soos Piet Bester destyds.

In 1976 het die Springbokvaskopstut Johan (Pottie) Strauss die All Black-loskopstut Perry Harris in die derde toets verguis en die reeks net daar beklink.

Arme Harris, wat ʼn noodsein ontvang het om hom vanuit Nieu-Seeland by die All Blacks se toerspan ná ʼn rits beserings aan te sluit, het in net een toets gespeel. Hy is boonop deur sy spanmaat Hamish Macdonald byna katswink (per ongeluk) geslaan en het die hele toets rondgedwaal.

In verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd in Jokohama het die Bokke die Engelse voos geskrum.

Volgens een van die Engelse spelers het die Bokke gereeld “skrum, skrum, skrum” geskree, wat hulle die papelellekoors gegee het.

In 1977 het Noord-Transvaal die Curriebeker teen die Vrystaat só gewen.

Die Vrystaters het 13 Bokke in die opdrafspan gehad met net die kaptein, Wouter Hugo, en die geharde slot Ross van Reenen wat nie die Groen-en-goud oor die kop getrek het nie.

Hul agterlyn, met Gysie Pienaar, Hermanus Potgieter, Gerrie Germishuys, Jan Schlebusch, Edrich Krantz, De Wet Ras en Barry Wolmarans, was kookwater.

Boonop het 19-jarige Naas Botha in sy eerste Curriebeker-eindstryd gespeel slegs ʼn paar dae nadat hy geplettervat is deur Morné du Plessis.

Botha het ingeskop, maar die bal regstreeks en diep in die pawiljoen geskop om ʼn skrum af te dwing.

Die skrum was die ondergang vir Vrystaat, want Hugo moes kop uittrek.

Die saadjie was geplant, gaan vra maar vir Wynand Claassen … en die eindtelling was 27-12 in Noord-Transvaal se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae