Skrumskakels gewoonlik goeie rugbyafrigters

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

As daar een vraag is waaroor daar kop gekrap gaan word, is watter posisie die meeste Springbokafrigters al opgelewer het.

Sedert 1992 ná die isolasiejare was daar reeds 14 afrigters, bestaande uit drie skrumskakels, Harry Viljoen, Peter de Villiers en Allister Coetzee, twee slotte, prof. John Williams en André Markgraaff, twee flanke, Ian McIntosh en Rassie Erasmus, twee agtstemanne, Rudolph Straeuli en Nick Mallett, en net een vleuel, Carel du Plessis.

Bygesê, Straeuli was in vier van sy tien toetse een van die Bokke se flanke en Erasmus het twee keer in sy 36 toetse agtsteman gespeel.

Ongelukkig is daar nie te veel agtergrond oor in watter posisies Kitch Christie, Heyneke Meyer, Jake White en Jacques Nienaber gespeel het nie.

Onthou ook dat dr. Danie Craven en Nelie Smith, wat die span voor 1992 afgerig het, ook skrumskakel gespeel het.

Boy Louw was ʼn Springbokstut, dr. Cecil Moss ʼn Springbokvleuel, Hennie Muller ʼn agtsteman, Ian Kirkpatrick ʼn senter-losskakel, en prof. Johan Claassen en Avril Malan Springbokslotte.

Nog iets oor dr. Moss wat die Bokke tussen 1982 en 1989 afgerig het. Hy was ʼn narkotiseur en was in 1967 ʼn lid van die span wat die hart van Denise Darvall verwyder het vir prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op Louis Washkansky in die Groote Schuur-hospitaal.

De Franse is ook baie lief om skrumskakels as hul afrigters te kies.

Die huidige afrigter Fabian Galthie en ook voor hom Pierre Berbizier en Jacques Fouroux was skrumskakels.

Fouroux, wat slegs 1,60 m lank was, se bynaam was die Klein Korporaal (verwysende na Napoleon Bonaparte) omdat hy dieselfde beeld vertoon het wanneer hy sy bevele deurgegee het.

Skrumskakels is gewoonlik regte kapokhaantjies. Hulle weet presies wat voor en agter aangaan en dis hoekom hulle goeie afrigters uitmaak, want hulle is kenners van die spel en duld geen onsin nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.