Slae vir die voorloper; amper asyn vir Wynboere

Die voorloper in die Curriebeker- Eerste Liga het Saterdag slae gekry, en die Wynboere het amper asyn geproe.

In Welkom het die tot dusver sukkelende Grens die verdedigende kampioen en voorloper vanjaar, die Griffons, met 41-33 ondergesit.

Veel kan daar nie in gelees word nie, want die wedstryd kon geen uitwerking op die halfeindronde hê nie, en die Noord-Vrystaters het so te sê hul hele voorkeurspan met die oog op die uitspeelrondes laat rus.

Bangi Kobese, die Grens se skrumskakel, het 16 punte met ʼn drie, vier doelskoppe en ʼn strafdoel op die telbord geplaas.

Op Swakopmund was dit ampertjies of die Wynboere het asyn geproe teen die Namibiese Welwitschias.

Slegs ʼn magtige terugvegpoging deur die Boland het voorkom dat die eerste Curriebekerwedstryd op dié kusdorp ʼn einde aan die Kavaliers se bekerdrome vanjaar maak.

Die Welwitschias het rustyd gerieflik met 19-7 voorgeloop, maar die Bolanders het uiteindelik kort voor die eindfluitjie die kragmeting met 26-24 beklink.

Hulle het daarmee ook seker gemaak dat hulle die reeks se kwarteindronde ten koste van die Suidwestelike Distrikte haal.

Die uitgeruste Griffons wag egter op hulle in Welkom.

In die ander halfeindsryd sal die Valke en die Luiperds sake op eersgenoemde se werf uitspook.

Die puntemakers –

Griffons 33 (21) – Drieë: Danie van der Merwe, Alrin Eksteen, Joubert Engelbrecht, Duan Pretorius (2). Doelskoppe: Bitzi Bitzi (3). Gaun Kotzé.

Grens 41 (12) – Drieë: Base Dubase (2), Bangi Kobese, Lundi Ralarala, S’bu Ncanywa, Dave Khethani. Doelskoppe: Bangi Kobese (4). Strafdoel: Bangi Kobese.

Welwitschias 24 (19) – Drieë: David Pilander, Lesley Klim, Johan Tromp, Macho Prinsloo. Doelskoppe: Theuns Kotzé (2).

Boland 26 (7) – Drieë: Elgars Watts (2), Sergio Torrens, Alcino Isaacs, Gerrit van Wyk. Doelskoppe: Elgar Watts (2), Adriaan Carelse.

Opgesomde punteleer –

Griffons 31, Valke 26, Luiperds 24, Boland 24, SWD 22, Grens 19, Welwitschias 14, Oostelike Provinsie 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.