Slegs drie onoorwonne in Supersportreeks

Kyle Steyn van Griekwas probeer van ʼn Vrystaatse verdediger ontslae raak. (Foto: Lee Warren, Gallo Images/Saru)

Slegs drie spanne is steeds onoorwonne ná die afgelope ronde van die Supersportreeks.

Die Vrystaat-Griekwas-derby, weliswaar op Rustenburg, het aan alle verwagtinge voldoen, met die Vrystaters wat op die ou end net-net kon wen, nadat die Poubloues se laaste doelskop in ʼn indrukwekkende terugvegpoging nie die kol kon vind nie.

Die Vrystaatse Vyftiental was rustyd met 24-0 voor, maar toe die Griekwas in die tweede helfte na snelrat oorskakel, moes hulle vir die vale walgooi.

Grens en die Oostelike Provinsie het mekaar goed opgedreun in Oos-Londen, waar die tuisspan met 22-17 gewen het, nadat hy met die blaaskans 3-10 agter was.

Wat die res betref, was die wengapings weereens ongesond groot, en wek die verdedigingspeil oor die algemeen kommer.

In Kemptonpark het die Goue Leeus-vyftiental die Valke met 68-12 oorweldig; in Windhoek het die Pumas die Welwitschias met 54-12 oorrompel; in Rustenburg het die Sharks-vyftiental die Luiperds-vyftiental met 57-28 oorskadu; en in Wellington het Boland die Suidwestelike Distrikte met 37-12 oorheers.

Shaun Reynolds (Goue Leeus) het drie drieë gedruk en ses verdoel om 27 punte op te stapel. Ernst Stapelberg (Vrystaat) het 17 punte met ʼn drie, drie doelskoppe en twee strafdoele behaal.

Die Westelike Provinsie (wat ʼn loslootjie geniet het) en die Pumas is die ander onoorwonne spanne.

Opgesomde punteleer –

Noord

Pumas 14, Goue Leeus 11, Blou Bulle 10, Valke 6, Welwitschias 1.

Sentraal

Vrystaat 15, Griekwas 12, Sharks 11, Griffons 7, Luiperds 1.

Suid

WP 14, Boland 11, SWD 10, Grens 4, OP 1.

Puntemakers –

Griekwas 31 (0) – Drieë: Conway Pretorius, Enver Brandt, Pieter Jansen van Vuuren, Kyle Steyn (2). Doelskoppe: Pieter-Steyn de Wet (3).
Vrystaat 32 (24) – Drieë: Tertius Kruger, Gerhard Oliver, Ernst Stapelberg, Alrich Coetzee. Doelskoppe: Ernst Stapelberg (3). Strafdoele: Ernst Stapelberg (2).

Grens 22 (3) – Drieë: Siphosenkosi Nofemele (2), Lelethu Gcilitshane. Doelskoppe: Bangihlombe Kobese (2). Strafdoel: Bangihlombe Kobese.
OP 17 (10) – Drieë: Siya Grey, J P Smith. Doelskoppe: Ruben de Vos (2). Skepdoel: Ruben de Vos.

Valke 12 (5) – Nie beskikbaar nie.
Goue Leeus 68 (26) – Drieë: Shaun Reynolds (3), Jan-Louis la Grange (2), James Venter (2), Jeanluc Cilliers, Corné Fourie, Vincent Tshituka. Doelskoppe: Shaun Reynolds (6), Siya Masuku (3).

Welwitschias 12 (12) – Drieë: Pieter Steenkamp (2). Doelskoppe: Pieter Steenkamp.
Pumas 54 (33) – Drieë: Jeandré Rudolph, Ruwellyn Isbell, Cameron Lindsay, Henko Marais, JP Lewis, Abrie Griesel, Hugo Kloppers, strafdrie. Doelskoppe: Justin van Staden (6).

Luiperds 28 (14) – Drieë: Gideon van der Merwe, Gene Willemse, Bradley Moolman, Justin Newman, Doelskoppe: Schalk Hugo (3), DP de Lange.
Sharks 57 (29) – Drieë: Grant Williams, Aphelele Fassi (2), Leolin Zass, Hyron Andrews, Courtney Winnaar, Johan Deysel , Tristan Blewett, Tera Mtembu. Doelskoppe: Garth April (5), Danrich Visagie.

Boland 37 (19) – Drieë: Jovelian de Koker, Edwin Sass (2), Zandré Jordaan, Valentino Wellman, Sergio Torrens. Doelskoppe: Elgar Watts (2). Strafdoele: Jacquin Jansen.
SWD 12 (7) – Drieë: Leighton Eksteen, Marlo van Niekerk. Doelskop: Leighton Eksteen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nee Dankie ·

Ek skeduleer eerder vir my n prostaat ondersoek deer Freddie Krueger as om dit te kyk! Baie minder pynvol

bloues ·

Nee Dankie, as ‘n mens kyk na die jong belowende spelers wat “deurkom” is ek opgewonde. Wanneer ek egter daaraan dink dat diesulke spelers in spel patrone en in ander posisies gaan ingedruk gaan word sak my moed.
Tot in my skoene

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.