Slegs vier nog onoorwonne in Supersportreeks

Slegs vier spanne is ná drie weke nog onoorwonne in die SA Rugbyraad se Supersportreeks – twee in die Noorder- en een elk in die Sentrale en Suiderafdeling.

In die Noorde stuur die Goue Leeus en die Blou Bulle soos van ouds op ʼn trompopbotsing oor twee weke af; nadat die Leeus die Welwitschias Saterdag met 112-14 oorrompel het (rustyd 49-0), en die Bulle ʼn goeie oorwinning van 63-26 oor die Valke behaal het (rustyd 35-14).

Die Westelike Provinsie het sy Bolandse buurman met 35-28 geklop (rustyd 28-6) en sodoende sy houvas in die Suide verstewig.

Die Luiperds is nog nie in die Sentraalstreek geklop nie; en die Sharks-vyftiental se onverwagse groot oorwinning van 52-24 oor die Griffons (rustyd 19-17) plaas hom nou bo die Noord-Vrystaters op die punteleer.

Shaun Reynolds, die Lions se losskakel, het 19 punte met ʼn drie en sewe doelskoppe aangeteken; en die Sharks-heelagter, Garth April, 18 met twee drieë en vier doelskoppe.

Die Leeus se Hacjivah Dayimani (plaasvervanger-vleuel) en die Bulle se Sibahle Maxwane (vleuel) het elk ʼn driekuns behaal.

Eenrigtingverkeer

♦ By die Alberton-rugbyklub het die Namibiërs se halfhartige verdediging sake makliker vir die tuisspan gemaak, wat binne die eerste kwartier drie van sy 15 drieë gedruk het om 21-0 voor te loop.

Die wedstryd het grootliks uit eenrigtingverkeer in die koers van die besoekers se doellyn bestaan, nadat hul vorige twee vertonings groter mededingendheid in vanjaar se reeks beloof het.

♦ Die Bulle het die skrums op Loftus Versfeld dermate oorheers dat die Valke twee strafdrieë afgestaan het.

Die besoekers het vuurwarm weggespring en was ná 17 minute met 14-7 voor, maar die Bulle het die telling binne twee minute gelykop gemaak, en daarna die inisiatief behou.

Skitterend

♦ Op Smitpark, Velddrif, het Boland in die tweede helfte aan die hardloop gegaan om 22 punte teenoor die WP se sewe aan te teken, maar die slag is in die eerste helfte gelewer.

Die spanne het mekaar deeglik vasgevat, en as die WP-senter Scott van Breda nie vroeg in die wedstryd, met Boland op die aanval, onderskep en die lengte van die veld vir ʼn drie genael het nie, kon die uitslag anders daar uitgesien het.

♦ ʼn Skitterende tweede helfte op Welkom het die Sharks in staat gestel om die Griffons en die Vrystaat op die punteleer verby te steek.

Die spanne het mekaar in die eerste helfte deeglik opgekeil, maar toe die KwaZulu-Natallers in die eerste ses minute na rustyd 19 punte opstapel, is die Griffons se moed gebreek.

Die puntemakers –

Goue Leeus 112 (49) – Drieë: Hacjivah Dayimani (3), Jarryd Sage (2), James Venter (2), JP du Preez (2), Madosh Tambwe, Shaun Reynolds, Victor Sekekete, Selom Gavor, Ashlon Davids, Gerdus van der Walt. Doelskoppe: Shaun Reynolds (7), Siya Masuku (5), Selom Gavor.

Welwitschias 14 (0) – Drieë: Lesley Kim (2). Doelskoppe: Theuns Kotzé (2).

Blou Bulle 63 (35) – Drieë: Boom Prinsloo (2), Shaun Adendorff, strafdrie (2), Sibahle Maxwane (3), Franco Naude. Doelskoppe: Tony Jantjies (7).

Valke 26 (14) – Drieë: Etienne Taljaard, Maphutha Dolo, Dian Koen, Andries Schutte. Doelskoppe: Warren Potgieter (3).

WP 35 (28) – Drieë: Scott van Breda, Dean Muir, Ruben de Villiers, Valentino Wellman, Eduard Zandberg. Doelskoppe: Brandon Thomson (5).

Boland 28 (6) – Drieë: Rinus Bothma, Sergio Torrens, Christopher Bosch, Chadley Wenn. Doelskop: Divan Nel. Strafdoele: Divan Nel (2)

Griffons 24 (17) – Drieë: Vuyo Mbotho, Tertius Maarman, Alrin Eksteen. Doelskoppe: Duan Pretorius (3). Strafdoel: Duan Pretorius.

Sharks 52 (19) – Drieë: Garth April (2), Hyron Andrews, Morné Joubert, Tristan Blewett, Jacques Vermeulen, strafdrie (2). Doelskoppe: April (4)

Opgesomde punteleer –

Noord

Goue Leeus 10, Blou Bulle 10, Valke 6, Pumas 5, Welwitschias 1.

Sentraal

Luiperds 15, Griekwas 7, Sharks 5, Griffons 5, Vrystaat 4.

Suid

WP 15, Grens 11, OP 5, SWD 4, Boland 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.