Die stryd om Rugby Afrika se Goue Beker word Saterdag in Windhoek tussen Namibië en Kenia beslis, nadat albei spanne die afgelope Saterdag hul wegbotsings in die reeks gewen het.
Op die koop toe sal die wenner Afrika in die volgende toernooi om die Wêreldbeker verteenwoordig.
Namibië het met ʼn sege van 48-24 (rustyd 22-10) Uganda op die Legends-sportterrein in Kampala sy eerste nederlaag in die reeks toegedien, en daarmee saam sy bekeraanspraak vernietig.
Kenia, wat deur die Suid-Afrikaner Jerome Paarwater afgerig word, het Zimbabwe op Hartsfield in Bulawayo met 41-22 verslaan (rustyd 17-12).
Zimbabwe se Swartwitpense het twee keer in die eerste helfte voorgeloop, maar die slag was teen rustyd gelewer, en hulle kon Kenia nie weer inhaal nie.
Dié uitslae plaas die Biltongboere twee ligapunte voor die Simbas, terwyl geeneen van die ander vier spanne hulle meer kan inhaal nie.
Kenia het Afrika se topreeks in 2013 gewen, en Namibië is die afgelope drie jaar die vasteland se kampioen.
Hoewel die Mahemme die eerste punte in Kampala behaal het, het die Namibiërs sonder sukkel die inisiatief oorgeneem, en kon hulle met akkurater stelskopwerk verder gewen het.
Justin Newman (2), Damian Stevens, Johan Tromp, David Philander, Niël van Vuuren en Gino Wilson het die wenspan se sewe drieë gedruk, en Cliven Loubser en Helarius Kisting het elk een verdoel. Loubser het ook met ʼn strafdoel geslaag.
Uganda word, kragtens ʼn ooreenkoms tussen die Ugandese Rugbyunie en die Cheetahs, deur die Vrystater John Duncan afgerig. Hy is die broer van die Cheetahs se Curriebekerafrigter. Rory Duncan.