Sleutelverliese laat Durban Collegians struikel

collegians-logo-196x300Die verlies van vyf van sy uitblinkers ná die klub se puik sege in die KwaZulu-Natalse uitklopreeks om die Murraybeker het Durban Collegians se Goue Bekerveldtog erg gestrem.

Robin Swanepoel, die uitgetrede hoofafrigter van Collegians, het by nabaat aan Pale Toe! gesê die klub het hom vanjaar in `n baie strawwe GB-groep bevind en nie so goed gevaar as wat hy graag sou wou nie.

“Ons was uiters ongelukkig in ons kragmeting teen Brakpan, en met `n bietjie meer ervaring kon ons jongelinge die wedstryd gunstig afrond, `n les wat ter harte geneem is.

“Ons het gewis baie uit die reeks geleer, die vernaamste dat `n span min kanse kry om `n wedstryd te beklink, en as jy dit met basiese foute verbrou, is jy met jou rug teen die muur.”

Swanepoel sê die deurslaggewende spelersverlies is in twee gevalle aan beserings gewyt, en drie spelers het oorsee gaan speel. Vier van die spelers het sleutelplekke in Collegians se opdrafspan beklee.

“Ons het ook `n werklik frustrerende ervaring in Harare gehad met, om die minste te sê, afgryslike fluitjieblasery. Die teenstanders se kaptein, afrigters en bestuur het almal vir die verskriklike vertoning om verskoning gevra.”

Swanepoel wou nie sterre uitsonder nie, maar sê die inspererende spel van die senior spelers het veel vir die span beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.