‘Sloopgewig’ uit SA breek pad oop in Amerika

Hanco Germishuys – “sloopgewig”. (Foto: Facebook)

ʼn Sloopgewig (wrecking-ball) noem die Amerikaners dié jong losvoorspeler uit Suid-Afrika, wat tans onkeerbaar in die Amerikaanse Senior Rugbyliga (MLR) voortstorm.

Dίs hoe die webwerf Americas Rugby News (ARN) die 21-jarige Hanco Germishuys bestempel, wat ses maande voor sy 20ste verjaardag al sy buiging in die Amerikaanse toetsspan gemaak het.

Dié gewese Cravenweekspeler van Griekwas (o.13) het Vrydag sy vierde drie in drie wedstryde vir Austin Elite in die MLR gedruk, en is die vorige week die tweede keer op die ry af deur ARN in sy span van die week ingesluit.

Austin is egter met 22-41 deur die Utah Warriors getroef en mis ooglopend die hand van die Suid-Afrikaanse afrigter Eugene Eloff, wat die franchise se moederspan, Austin Huns, verlede jaar van nêrens af tot die Amerikaanse nasionale klubkampioen gebrei het.

♦ In nog ʼn MRL-wedstryd het Glendale Raptors, onder die aanvoering van Shaun Davies, ʼn oudleerling van Westville Boysʼ High in Durban, met 31-27 teen San Diego Legion gewen.

Dolph Botha (vaskopstut), wat die Cheetahs ʼn slag in Superrugby verteenwoordig het, het een van San Diego se drieë gedruk.

♦ Seattle Seawolves, steeds sonder sy beseerde kaptein uit Suid-Afrika, Riekert Hattingh, het NOLA Gold van New Orleans Saterdag in die ander kragmeting in die reeks met 31-29 getroef.

Arende

♦ Germishuys en Davies is tussen die vyf spelers met Suid-Afrikaanse bande wat die afrigter Gary Gold in sy groep van 30 vir die Junietoetse teen Rusland, Skotland en Kanada ingesluit het.

Die ander drie is Ruben de Haas, Marcel Brache en James Hilterbrand.

Die 19-jarige De Haas het Amerika reeds in drie toetse verteenwoordig. Sy pa, Pieter, en oupa, Gerard, is op hul dag tussen Suid-Afrika se voorste spelers gereken.

Brache het Superrugby vir die Stormers gespeel, en die Australiër Hilterbrand het ʼn draai by die Kings gemaak.

Gold is natuurlik self ʼn Suid-Afrikaner en ʼn gewese hulpafrigter van die Springbokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.