Slordige All Blacks sukkel maar druk tog vyf keer

Nou wie het nou gedink die All Blacks kan ook sukkel!

Die slordige wedstryd Sondagoggend (SA tyd) was die All Blacks se swakste in ʼn lang tyd. Tog het hulle vyf drieë teen die Pumas se een gedruk.

Nieu-Seeland het eers in die heel laaste beweging van die wedstryd in die Rugbykampioenskap teen Argentinië in Buenos Aires hul enigste punte in die tweede helfte aangeteken om met 36-10 te wen.

Die Nieu-Seelandse span, wat voor hulle opgedraf het reeds geweet het die Rugbykampioenskap is weer hulle s’n, het met ʼn vaart weggespring.

Die span, wat ʼn paar nuwelinge en tweedekeuse spelers ingesluit het, het na 28 minute reeds met 29-3 voorgeloop. Hoewel daar hier en daar ʼn fout of twee was, was daar visioene van ʼn groot telling soos die 57-0 waarmee Suid-Afrika twee weke gelede verneder is.

Die Pumas het egter toe hulle voete gevind, hul verdedigingstrukture gevolg en gekeer en vir ʼn vale ingeklim.

Dit ontwrigte All Blacks-span se ritme is hierdeur versteur, en vir die volgende 50 minute kon hulle nie enkele punt aanteken nie.

Die vlakstaande Pumas se opskietverdediging het die All Blacks die kans ontneem om die bal wyd te speel en die goeie aansluiting van spelers was afwesig met aangeë wat dikwels op die grond beland en besit wat by die afbreekpunte verlore gegaan het.

Die Nieu-Seelanders het sodoende vir hulle die ongehoorde meer as 20 keer besit afgestaan.

Tog kon Argentinië, behalwe vir ʼn goue tydperk van sowat 15 minute in die derde kwart, nie met hulle sterk verdediging gebiedsvoordeel verkry nie. Hulle het in daardie tyd minute hulle enigste (ietwat omstrede) drie gedruk terwyl die All Blacks se Kieran Read met ʼn geel kaart vir ʼn hoogvat van die veld was.

Die All Blacks het die Pumas in die skrums heeltemal verniel, en dit moet gevaarligte vir die Bokke laat flikker met die oog op Saterdag se toets op Nuweland.

♦  Die swak hanteerwerk en skakeling is ook nie vir Allister Coetzee-hulle goeie nuus  nie. Dit kan nouliks twee keer na mekaar gebeur, en onthou: Saterdag is vyf van die All Blacks wat gerus is, terug teen die Bokke.

♦  Argentinië sal nou daadwerklik iets aan hulle dissipline moet doen. Tussen al die ander gevalle was daar Tomas Lavanini, wat reeds ʼn reputasie het, wat weer ʼn geel kaart gekry het. Hy het nie sy arms in ʼn duikslag gebruik nie.

Puntemakers –

Argentinië (3) 10: Drie: Juan Manuel Leguizamon. Doelskop: Nicolás Sánchez. Strafdoel: Sánchez.

Nieu-Seeland (29) 36: Drieë: Kieran Read 2, Damian McKenzie, Waisake Naholo, David Havili. Doelskoppe: Beauden Barrett 4. Strafdoel: Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sjo! ·

Hahaha met Dreyer en n paar ander in die amokroko boko skrum sien ek die in tru-rat die heeltyd teen die MIGHTY ALL BLACKS!!!!
Teminste verloor Argentinia nie 57-0 soos die amokrokko bokko nie teen die Mighty ALL BLACKS nie!!!hahahahahahaaaaa…
Sterkte ou boerbok span…hahahaaaa

hakgk ·

Die all blacks kom die bokke weer ‘n rugby les gee in ons eie land.
Dis ‘n skande. Waar is die trots en springbok rugby wat ons geken het.

Frans C ·

Net gekyk tot halftyd.Met telling op 29-3 het ek gedink hier kom ‘n slagting en toemaar gaan slaap.

Johan ·

Net stukke gekyk van die wedstryd.
Lavanini se geelkaart was agv sy “reputasie” en ‘n nou-al-bekende kruiperige skeidsregter wat alle 50/50 beslissings aan All Blacks gee. Was nie ‘n geelkaart nie. As dit ‘n geelkaart was, was Australie se Folau ‘n rooi kaart. Skeidsregters se dubbelle standaarde is ‘n GROOT kommer. All Blacks kry gereeld voordeel op 50/50 beslissings.

Pumas se opskietverdediging saam met Britse Leeus se goeie “first-time-tackling” is rigtingwyser wat Bokke moet doen. Jy mag nie AB’s spasie gee nie.

Natuurlik moet jy ook self driee kan druk, alvorens jy ‘n toets kan wen. Dit kom net as jou BESLUITNEMING reg is, wat die Bokke nog in die steek laat.

Sterkte Bokke. Gaan baie moeilik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.