Slotreus Whitelock binnekort klaar met rugby

Nieu-Seeland se Sam Whitelock. (Foto: Lorenzo di Cola/NurPhoto via AFP)

Nee, Sam Whitelock gaan nie vir oulaas vir die All Blacks uitdraf nie.

Die Nieu-Seelandse slot, wat 2,03 m in sy sokkies staan en die skaal op 120 kg laat kreun, het vandag op sosiale media bevestig dat hy sy rugbystewels aan die einde van die Franse seisoen permanent sal wegbêre.

Hy het ná die 2023 Wêreldbeker-eindstryd teen die Springbokke deel van die Pau-opset in die Franse Top-14 geword.

Die 35-jarige slot het in 153 wedstryde vir die Kiwi’s uitgedraf en twee keer die Webb Ellis-trofee (in 2011 en 2015) saam met die All Blacks omhoog gehou.

Scott Robertson, die nuwe All Blacks-breier, het al voelers oor ʼn moontlike toetsterugkeer uitgesteek, maar Whitelock wil graag meer tyd saam met sy gesin deurbring.

“Ek het al ʼn paar keer met my vrou en kinders oor ons toekoms gesels; dit is tyd dat ek my rugbyhoofstuk afsluit,” het Whitelock gesê.

Volgens die ervare lynstaanspesialis is hy steeds oorgehaal om mededingende rugby te speel, maar het hy ʼn fase in sy lewe bereik waar hy moet aanbeweeg.

“Dit was nie ʼn maklike besluit nie, maar dit is die regte keuse vir ons gesin. Ek dink dit is wat my só opgewonde maak – om meer tyd saam met my vrou en kinders deur te bring. Ek sal nou kans kry om hulle vordering van langs die sportveld te volg.”

Robertson het intussen Whitelock se lof besing.

“Hy is eerstens ʼn wonderlike mens. Hy is ʼn baie goeie man vir sy vrou en pa vir sy kinders en hy beskik oor die spesiale vermoë om ʼn hegte band met enigiemand te bou,” het hy gesê.

Volgens die All Blacks-afrigter was Whitelock ʼn reus in die All Blacks-trui – ʼn speler wat sy man in vier Wêreldbeker-toernooie gestaan het.

“Hy was ʼn wenner wat op sy beste in moeilike wedstryde was en sy mededingende spel was die dryfveer van sy sukses. Hy is een van rugby se grotes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.