Small gee Lomu en die All Blacks bloedneus

James Small. Argieffoto.

Die laaste week voor die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi in 1995 is deur een speler oorheers: Jonah Lomu.

Oral waar jy gegaan het, was net een vraag op almal se lippe: Hoe gaan die Bokke hom in die eindstryd op Ellispark keer?

Nadat die Springbokke die Franse die Saterdag (17 Junie 1995) met 19 – 15 in ʼn waterbad op Kingspark in Durban geklop het, het die All Blacks Engeland die Sondagmiddag (18 Junie) met 45 – 29 op Nuweland, Kaapstad, omgedop.

Die tafel was gedek: die Bokke in hul eerste WB-eindstryd teen 1987 se WB-wenners.

Die Springbokspan en die joernaliste wat hulle tydens die toernooi gevolg het, was die Sondagoggend op pad terug van Durban af en het die kragmeting tussen die All Blacks en Engeland op televisie in hul hotelkamers dopgehou.

Lomu was vreesaanjaend, ʼn menslike tenk, ʼn frats wat ʼn ongekende vier drieë in ʼn WB-halfeindstryd gedruk het. Hy het slegs die eerste speler geword wat dit teen die Engelse in ʼn toetswedstryd kon regkry sedert Maurice Richards dit in 1969 vermag het.

Dit was heerlike pitkos vir die res van die week: hoe om Lomu te keer.

Ironies genoeg was die koerante se voorblaaie vol van Lomu, hoewel daar die hele week nie ʼn enkele onderhoud met hom gevoer is nie.

Die All Blacks se afrigter, Laurie Mains, wat van nature befoeterd kon wees, was die laaste paar dae voor die eindstryd nog moeiliker.

Hy het geweier dat die 20-jarige Lomu met enigiemand praat; hy het hom in watte toegedraai.

Jonah Lomu op volle vaart in sy speeldae. Foto: Twitter.

Die naaste wat ons aan hom kon kom, was om ʼn steelfoto van hom te neem terwyl hy met oorfone op sy ore terug spanbus toe geloop het.

Dit het Mains briesend gemaak.

Daar is toe maar regdeur die week met oud-Bokvleuels soos Gert Muller en Carel Fourie gesels oor hoe om ʼn menslike tenk te keer.

Maar waar die All Blacks laer getrek het om Lomu, het die Springbokbestuur in ʼn meesterskuif vir James Small (sy direkte teenstander) vir ʼn mediakonferensie beskikbaar gestel.

Die meeste van sy spanmaats, soos Japie Mulder, Hennie le Roux, Joost van der Westhuizen, Ruben Kruger en vanselfsprekend Francois Pienaar, het langs Small by die mediakonferensie opgedaag en agter en langs hom gestaan.

Daar was net een vraag: “Hoe gaan jy vir Lomu keer?”.

Die spelers het na mekaar gekyk en toe het almal saam geantwoord: “Ons gaan hom keer.”

Daar was tyd vir nog een vraag, wat Small gestel het.

“Hoe gaan hy my keer?”

Daar was ʼn groot gelag, die ys was gebreek, die Bokke het die eerste stel gewen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johanf ·

Legende…… SA sal jou en die 1995 wedstryd altyd onthou.
RIV

isabelle ·

hoendervleis lekker sal ek nou ooit daai legends kan vergeet of daai trotse stadion waar die landslieD ego WAS ONBESKRYFLIK

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.