Smith en Cheetahs glo in hul vermoëns

Rhyno Smith druk een van sy twee drieë teen Ulster. (Foto: Cheetahs/Twitter)

Hy is dalk dapperder as Chuck Norris om só ’n voorspelling te maak, maar die Cheetahs se Rhyno Smith glo die Vrystaters beskik vanjaar oor die vermoë om die Guinness Pro14-toernooi te wen.

Die Blikore het al onder andere met die Glasgow Warriors en Ulster afgereken en hoewel dié twee spanne aansienlik verswak is weens ’n Wêreldbeker-speleruittog, is hulle ordéntlik in Bloemfontein geklop.

Daar word egter verwag dat die onoorwonne Munster baie kwaaier teenstand hierdie Saterdag sal bied. Smith glo egter die Cheetahs speel met soveel selfvertroue en vryheid dat geen hekkie sommer te hoog vir hulle sal wees nie.

“Die ouens glo ons kan die reeks wen. Ons het die plaaslike Curriebeker-reeks gewen en dit het vir hope selfvertroue gesorg. Voeg daarby die feit dat die meeste spelers al meer as 20 wedstryde in die Pro14 gespeel het, en jy sit met ’n baie gevaarlike Cheetahs-span,” het Smith gesê.

“Vir die eerste keer in drie jaar gló ons dat ons die reeks kan wen.”

As speler ry Smith tans self die momentumgolf: Vier drieë in twee wedstryde is glad nie sleg nie.

“Ek dink die Cheetahs wíl hardlooprugby speel. Almal is op dieselfde golflengte en hul benadering tot wedstryde pas my manier van speel baie beter. Die feit dat ek op ’n gereelde grondslag gekies word, help ook baie.”

Hy weet hoe moeilik dit kan wees om die aanvallende Cheetahs in Bloemfontein te trotseer; hy het immers vir die Haaie in die Curriebeker-reeks gespeel. Maar kan die Cheetahs aan hul wedstrydplan skaaf om by die kouer en natter toestande in Europa aan te pas?

“Dieselfde vraag kan aan die spanne gevra word wat hier kom toer. As hulle hul manier van speel na ons land bring én dit is somer, is dit dan nog net so doeltreffend soos in Europa? Ek glo as jy iets goed genoeg doen en dit werk, sal jy heel oukei wees.”

Maar vir eers wag Munster op die Bloemfonteiners en Smith kan nie wag om hulle aan te vat nie.

“Ek verwag dat hulle goed afgerig sal wees; ’n mens weet eintlik wat om van hulle te verwag. Ons sal ons bes doen om hul lugskoppe te neutraliseer en hulle laat boet as hulle foute maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Werner ·

Ek stem saam met jou, Peet.
In 2007 het die AllBlacks ook gerus terwyl die Superrugby gespeel is, en toe wen die Bulle die afgewaterde reeks toevallig in die laaste sekondes teen die Haaie. Mense het toe gedink Heyneke Meyer is n goeie afrigter, terwyl Dick Muir eintlik beter was. Franco Smith was die Bokke se aanvalsafrigter toe die Kiwis 57-0 gewen het!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.