Smith kan Goosen se skoene volstaan

Johan Goosen op pad na ’n drie. Foto: GB Jordaan.

Met die Curriebeker-eindstryd om die draai is Johan Goosen se positiewe toets vir Covid-19 inderdaad ’n groot terugslag vir die Blou Bulle.

Sedert die 29-jarige losskakel Montpellier vir Pretoria verruil het, is hy die aanvallende taktiese meester wat vir daardie tikkie ekstra vonk in die agterlyn sorg.

En om doodeerlik te wees, sy spelpeil wys dat hy inderdaad een van die voorste losskakels ter wêreld is.

Maar in sy afwesigheid sal Jake White waarskynlik Chris Smith naderwink om die no. 10-trui te dra, met FC du Plessis dalk op die plaasvervangersbank.

Ja, die 26-jarige oud-Matie het in die Reënboogbeker-eindstryd in Treviso gesukkel, maar die res van sy spanmaats het ook maar onder die Italiaanse son rondgeploeter.

Onthou julle Smith se heldedade vroeër teen die Westelike Provinsie?

Sy goedberekende skop het ’n sleutelrol in Marco Jansen van Vuren se drie gespeel, terwyl hy ook komkommerkoel gebly het om die daaropvolgende doelskop oor die dwarslat te jaag.

En om onder druk met ’n stelskop te slaag kan van onskatbare waarde in ’n eindstryd wees.

Conrad Breytenbach, die voormalige Blou Bul-skrumskakel, het ná daardie wedstryd gesê dat Smith se besluitneming goed was en dat hy met gemak die spelers rondom hom weggestuur het.

Smith kan ook drieë druk. (Foto: GB Jordaan)

Marius van Rensburg, een van Suid-Afrika se beste rugbymanne, het in sy dae as die Pumas se spanbestuurder vir Smith in die Kaap gaan haal om vir die Laevelders te speel.

Die Matie-losskakel het glad nie teleurgestel nie en hy het 131 punte vir die Pumas in hul suksesvolle SuperSport Uitdaagreeks-veldtog van 2018 aangeteken.

“Chris het sommer dadelik ingeskakel en dit het gelyk asof hy al jare lank deel van ons opset was. Hy is ’n wonderlike speler en net so ’n goeie mens,” het Van Rensburg vir Maroela Media gesê.

Ja, die Treviso-eindstryd was dalk ’n minder goeie uitstappie, maar hy kan dit beslis met ’n goeie vertoning teen die Haaie regstel.

Hy is immers goed genoeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boer

Gedurende die uitspeel ronde as n span covid + in die span het mag hulle die game nie speel nie en die ander span het die punte gekry. Dit is hoe die bulle en sharks maklik bo aan die punte leer gekom het. My vraag is daar is mos n covid + in die bulle span so eintlik volgens die reels moet hulle die game gee vir die Sharks.