Snaakser dinge het al gebeur, maar …

springbok-logo croppedSwakker spanne as die huidige Springbokspan wat Saterdag teen die All Blacks geen kans gegun word nie het al teen die verwagting in gewen. Maar dit was onder ander omstandighede.

Toe het hulle gegló hulle kan.

Soos ondermeer in 1982, toe die Bokke 50-18 teen die Jaguars gewen het. Dit was eintlik maar die Poemas met ʼn ander naam omrede die politiek van daardie era. Dit was eenrigtingverkeer toe ʼn drie nog net vier punte getel het, en Loftus was rasend.

Die week daarna, in Bloemfontein, het die Jaguars die bordjies verhang, 21-12. Dit was ʼn ommeswaai van 41 punte. Dieselfde spanne, maar ʼn ander ingesteldheid.

Dit is onwaarskynlik dat die All Blacks die Springbokke sal onderskat, al is hulle sterk genoeg om dit te mag doen.

Wat meer waarskynlik is, is dat die Bokke nie sal glo dat hulle kan doen wat die Jaguars in 1982 gedoen het nie.

Dit is nie ʼn goeie Springbokspan nie. Ook nie naastenby ons swakste nie. Hierdie kan selfs ʼn baie goeie span word as dit reg gehanteer en afgerig word.

Die werklikheid egter is dat die huidige span, tuis en oorsee, uitmekaar getrek en selfs bespot word. Dit is nie hulle skuld nie, hulle speel waar hulle gekies word soos nog al die jare gedoen is en volgens hoe hulle aangesê word om te speel.

Maar hulle kan nouliks gló hulle sal Saterdag wen. En in rugby tel die kop se dinge  sommer baie.

Man vir man is die All Blacks beter of baie beter; hulle speel al vyf jaar onder dieselfde afrigtingspersoneel; hulle het die selfvertroue van 43  opeenvolgende tuisoorwinnings en kort vier wedstryde om die rekord van Nic Mallett se span se 17 opeenvolgende oorwinnings te verbeter.

Die tuisspan is bekend vir hulle yslike agterspelers. Kyk jy na die Bokke lyk hulle soos ʼn sterkerige skole-eerstespan. Jessie Kriel se 96kg is die swaarste. Faf de Klerk (80kg), Elton Jantjies (88kg), Juan de Jongh (85kg), Jesse Kriel (96kg), Bryan Habana (94kg), Francois Hougaard (91kg) en Johan Goosen (89kg) is die manne wat die All Blacks se reuse moet keer.

Hoe Coetzee skielik uitgekom het by die kies van Vincent Koch wat verlede week nie eers die bank kon haal nie, sal net hy weet Dit is miskien nou die regte keuse, maar hoekom nie verlede week nie?

En nou is Damian de Allende ook van buite die Wallabywedstryd se 23-tal ingebring omdat Coetzee ʼn spesialis-plaasvervanger vir binnesenter wil hê. Wat het verander van verlede Saterdag af? Was dit toe nie ook nodig nie?

Vergeet vir eers daarvan of Malcom Marx beter is as Bongi Mbonambi of nie. Laasgenoemde het in sy min tyd op die veld twee mooi kraglopies teen die Wallabies ingesit. Na ses toetse word daar nou uit die bloue besluit hy is ne die man nie?

Ons soek antwoorde vir die ondeurdagte besluite.

Nee wat, ʼn mens kan Saterdag seker maar hoop. Snaakser goed het al gebeur.

Maar daar is iets soos realisme, met die rekord-neerlaag van 36 punte in 2003 gewis in gevaar.

Spanne –

Nieu-Seeland
15 Ben Smith 14 Israel Dagg, 13 Malakai Fekitoa, 12 Ryan Crotty, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kapt.), 7 Ardie Savea, 6 Jerome Kaino, 5 Samuel Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Joe Moody.  Bank: 16 James Parsons, 17 Wyatt Crockett, 18 Charlie Faumuina, 19 Luke Romano, 20 Matt Todd, 21 TJ Perenara, 22 Lima Sopoaga, 23 Anton Lienert-Brown

Suid-Afrika
15 Johan Goosen, 14 Bryan Habana, 13 Jesse Kriel, 12 Juan de Jongh, 11 Francois Hougaard, 10 Elton Jantjies, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley, 7 Oupa Mohoje, 6 Francois Louw, 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth, 3 Vincent Koch, 2 Adriaan Strauss (kapt.), 1 Tendai Mtawarira
Bank: 16 Malcolm Marx, 17 Steven Kitshoff, 18 Lourens Adriaanse, 19 Franco Mostert, 20 Willem Alberts, 21 Jaco Kriel, 22 Morne Steyn, 23 Damian de Allende

Afskop: 09:35

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.