Snyman, Murray, Crowley in gedugte Munster-groep

Munster se RG Snyman. (Foto: Twitter/Munster)

Graham Rowntree se Munster sal allesbehalwe kanonvoer wees wanneer hulle die naweek kragte teen die Stormers in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap meet.

Die Iere het ʼn sterk groep van 30 spelers – 17 voorspelers en 13 agterspelers – vir die Suid-Afrikaanse bekersafari gekies.

En onder die voorspelergroep staan RG Snyman se naam ongetwyfeld uit. Die 28-jarige slot wil immers met elke wedstryd wat hy speel aan die Springbok-keurders bewys dat hy ʼn vliegtuigkaartjie na Frankryk verdien.

En ʼn goeie vertoning teen die Kapenaars in ʼn groot eindstryd kan dalk net ʼn besigheidsklaskaartjie na die Wêreldbeker-toernooi verseker.

Snyman het juis vroeër ʼn barshou teen die Stormers gespeel toe Munster die Kapenaars se wenlopie op die DHL-stadion tot ʼn einde gebring het.

In die agterlyn sal Conor Murray se ervaring vir ʼn definitiewe hupstoot sorg.

Benewens sy 105 toetse vir Ierland het die 34-jarige skrumskakel reeds 176 keer vir Munster uitgedraf en hy was die Ierse rugbyskrywers se speler van die jaar in 2017.

Die Stormers sal ook op hul hoede vir Jack Crowley moet wees: Die man het immers vir Leinster met sy uitstekende skepskoppoging in Dublin uitgeskakel en volgens Rowntree beskik hy beslis oor die X-faktor.

Munster het ook met daardie einste  Leinster-triomf gewys dat hy belangrike wedstryde weg van die huis kan wen.

  • Munster-groep:

Voorspelers: Dave Kilcoyne, Jeremy Loughman, Josh Wycherley, Diarmuid Barron, Niall Scannell, Scott Buckley, Stephen Archer, Roman Salanoa, Tadhg Beirne, Jean Kleyn, RG Snyman, Fineen Wycherley, Gavin Coombes, John Hodnett, Alex Kendellen, Jack O’Donoghue en Peter O’Mahony.

Agterspelers: Craig Casey, Ethan Coughlan, Conor Murray, Joey Carbery, Jack Crowley, Ben Healy, Malakai Fekitoa, Antoine Frisch, Rory Scannell, Shane Daly, Keith Earls, Mike Haley en Calvin Nash.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Munster se span mag vir ons dalks ‘n onaangename verrassing oplewer . Hul het nie ‘n swak span nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.