So byna was ’n All Black en ’n Leeu Bokke

rugbybal-3.jpg

Argieffoto.

Jare gelede, toe daar nog rugbytoere na Suid-Afrika was, was dit byna ’n gegewe dat een of twee van ’n toerspan se spelers hulle ná die toer hier sou vestig.

Hoe dan anders in ’n destydse land van melk en heuning, sonskyn en see, mooi vroue en rugby.

Van die bekendstes was die Ierse en Britse Leeus-skrumskakel John Robbie, die All Black-senter Grahame Thorne en die veelsydige All Black-voorspeler Alan Sutherland.

Wat van ander All Blacks soos Lawrie Knight (’n mediese dokter), Kevin Eveleigh en Murray Mexted? Die Engelse flank PeterWinterbottom het jare lank vir die Pirates-klub in Johannesburg gespeel, die Engelse agtsteman Andy Ripley was in Durban en ’n rits Franse soos Laurent Cabannes, Fabian Galthie, Olivier Roumat, Thierry Lacroix en Argentynse Pumas soos Jorge Allan en Roberto Gray het ook tydelik na Suid-Afrika verhuis.

Robbie, wat nege toetse vir Ierland gespeel het, was in 1980 saam met ’n klubspan op toer toe hy ’n noodsein ontvang het om hom by die Britse Leeus-toerspan aan te sluit.

Hy het in die vierde toets teen die Bokke gespeel, wat die Leeus met 17-13 op Loftus Versfeld gewen het.

Hy het ná die toer na Johannesburg teruggekeer, het 84 keer vir Transvaal gespeel (ook as kaptein) en was een of twee keer ’n Springbok-plaasvervanger, sonder om te speel.

Thorne het ná die All Black-toer in 1970 na Suid-Afrika teruggekeer en is met ’n Suid-Afrikaanse meisie getroud. Hy het vir Tuks gespeel en was ’ningeskrewe student, hoewel hy net “môre, dankie en totsiens” kon sê. Hy het vir Noord-Transvaal gespeel en moes na alle waarskynlikheid in 1972 vir die Bokke teen Engeland gespeel het, maar dr. Danie Craven was daarteen gekant.

Hy was twee keer getroud en het twee seuns gehad. Die oudste, Bruce, het vir Transvaal (Leeus) en Natal gespeel, maar het tragies in ’n motorongeluk omgekom.

Sy tweede seun, David, is in 2006 verlam tydens ’n rugbywedstryd in Nelson, Nieu-Seeland.

Thorne was ’n Nieu-Seelandse parlementslid en het later ook gewilde kookprogramme op televisie aangebied.

Sutherland, wat in tien toetse vir die All Blacks gespeel het (drie daarvan as kaptein) was in 1970 en 1976 op twee All Black-toere na Suid-Afrika.

Dis waar hy die skoonheid Vera Johns, wat in 1975 Mej. Suid-Afrika was, ontmoet het en later met haar getroud is.

Sutherland het ná die toer in 1976 na Rhodesië verhuis (waar Johns gewoon het) en ook vir hulle gespeel.

Hulle het later na die Natalse Middellande naby Mooirivier verhuis waar hy baie suksesvol resiesperde geteel het.

Colin Meads, een van sy oud-spanmaats, kon dit nie kleinkry nie en het altyd vertel van die gedaanteverwisseling wat Sutherland ondergaan het.

“Sully praat nou heeltemal anders en dra selfs strepiespakke,” het Meads gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.