Só doen ʼn rugbyafrigter mos sy huiswerk

Eddie Jones (Foto: Twitter)

Dit is nog vyf maande voordat die eerste toets op 9 Junie teen die Engelse toerspan op Ellispark gespeel word.

Maar wie het Maandag ʼn verkenningstog op Ellispark gedoen? Die Engelse afrigter, Eddie Jones, en lede van sy ondersteuningspan.

Hy reis vandag na Bloemfontein waar die tweede toets op 16 Junie gespeel word en Donderdag na Kaapstad, waar die derde toets op Nuweland op 23 Junie afgehandel word.

Jones-hulle was reeds in Japan, waar aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi gespeel word.

Hy wil niks aan die toeval oorlaat nie; hy wil seker maak dat alles klopdisselboom verloop wanneer die Engelse in Junie in Suid-Afrika en aanstaande jaar in September in Japan aankom.

Hy vergewis hom nou al van die hotelle waar die spelers sal bly, waar hulle sal oefen, hoe lank dit sal neem om van die lughawe na die hotelle te reis, van die hotelle na die stadions, hoe lank dit sal neem om rustyd van die afrigterslosie in die hoofpaviljoen by die kleedkamer of op die veld uit te kom, waar die plaasvervangers sal sit, waar die mediakonferensies sal paasvind, oor die mediese geriewe en dies meer.

Dis niks nuuts vir die meeste rugbyspanne nie, dit word jare lank al gedoen.

Maar soms kan dit boemerang, soos die Britse en Ierse Leeus-toerspan dit in 1997 uitgevind het.

♦  Die oud-loskopstut Fran Cotton was in 1974 een van die Leeus-toerspan se spanlede wat die reeks teen die Bokke met 3-0 gewen het. Die toerspan het tussen twee van die toetse ʼn paar dae by die Vaalrivier gaan uitspan om hul batterye te laai en dit het wondere verrig.

Cotton, wat daarna in 1997 die bestuurder van die Leeus-toerspan was, wou dieselfde roete volg, maar die hotel was afgeleef en van die nywerhede se stank en rookmis het in die lug gehang. In plaas daarvan om die gemoedstoestand te lig, was daar maar bra lang gesigte in die toergroep.

En wat van in 1970 toe die All Blacks deur Suid-Afrika getoer het? Die Nieu-Seelanders sweer hoog en laag dat die spelers se aandag op allerhande maniere afgetrek is. Nadat die toerspan Transvaal met 34-17  geklop het, het dr. Louis Luyt (toe ʼn skatryk sakeman) byvoorbeeld aangebied om van die spelers in sy eie private vliegtuig Lourenço Marques (Maputo) toe te neem om vir ʼn dag of twee te gaan uitspan.

Namate die toer gevorder het, het die uitstappies al hoe meer en gewilder onder die spelers geraak, maar tot baie groot irritasie by afrigters gelei.

Die uiteinde? Die Bokke het die reeks met 3-1 gewen … en van die spelers het darem ʼn paar Portugese woorde aangeleer.

♦  Ná Jones se verkenningstog word daar gewonder of die Suid-Afrikaanse rugbybase van ’n groot, swaar, lang oud-voorspeler gebruik gemaak het om na Europa in ekonomiese klas te vlieg voor die Springbokke se toer in November na Europa?

Indien wel, gaan daarmee voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Duitser ·

Eddie Jones word hoog aangeslaan deur top wallabies spelers en kommentators soos Rod Kafer en Stephen Anderson

Juan ·

dink nie die 2019 wereld kampioene steur hulle veel aan Engeland en Eddie Jones nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.