Só dok Euro-rugby vir verskillende posisies op

Lig oor die vergelykende gemiddelde bedrae wat Europese klubs in 2017-2018 vir spelers in verskillende posisies opdok, word in ʼn nuwe studie deur ʼn vooraanstaande sportagentskap gewerp.

Esportiff Intelligence het pas besonderhede oor die Franse Top14-liga bygevoeg tot dié oor die Engelse Premierliga en die internasionale Pro14-reeks wat vroeër uitgereik is.

In die Top14- en die Premierliga word die grootste premie, luidens berigte, op losskakels geplaas en in die Pro14-reeks is heelagters die topverdieners, met die losskakels tweede.

Inligting oor individuele verdienste is fragmentaries en onseker, maar wat die losskakels betref, word berig dat Dan Carter (moontlik steeds die wêreld se bes betaalde speler) £1,4 miljoen (sowat R23,4 miljoen) per jaar by Racing 92 verdien en Matt Giteau £900 000 (sowat R15 miljoen) by Toulon. Aaron Cruden is met £680 000 (sowat R11,4 miljoen) by Montpellier verbind. Jonathan Sexton verdien glo £500 000 (sowat R8,3 miljoen) per jaar, nes Carter by Racing 92. Colin Slade verdien £450 000 (sowat R7,5 miljoen) by Pau.

Owen Farrell verdien blykbaar reeds omtrent £750 000 (sowat R12,5 miljoen) per jaar by Saracens in die Premierliga, en Dan Biggar sal glo aanstande seisoen £650 000 (sowat R10,8 miljoen) by Northampton verdien.

Verlede jaar is in die Franse media gerapporteer dat die Springbok Morné Steyn volgens dié berig die hoogs besoldigde Bok in die Top14 is en €47 000 per maand, dus €564 000 per jaar (sowat R8,4 miljoen), by Stade Français verdien.

Wat die Pro14 se heelagters betref, verdien Charles Pitau van Ulster £500 000 (sowat R8,3 miljoen) per jaar. Na berig word, sal hy dit aanstaande seisoen verdubbel in ʼn voorsiene skuif na die Engelse klub Wasps.

Luidens berigte verdien Stuart Hogg, die bes besoldigde Skot, £375 000 (sowat R6,3 miljoen) by Glasgow Warriors. Die Scarlets se Leigh Halfpenny verdien blykbaar £350 000 (sowat R5,8 miljoen) nadat hy voorheen £600 000 (sowat R10 miljoen) by Toulon gekry het.

Top14-liga

Agstemanne verdien die tweede beste in die Franse senior liga, met die Bok Duane Vermeulen se £450 000 (sowat R7,5 miljoen) per jaar by Toulon glo die meeste vir dié posisie.

Dan volg vaskopstutte, en dan eers binne- en daarna buitesenters.

Ma’a Nonu verdien glo £600 000 (sowat R10 miljoen) as binnesenter by Toulon, en Conrad Smith £400 000 (sowat R6,7 miljoen) as buitesenter by Pau.

Die Bok Frans Steyn het na berig word verlede jaar €480 000 (sowat R7,1 miljoen) as buitesenter by Montpellier verdien.

Volgende op die lys af is speelkantflanke, hakers, eerstelinie-vleuels [die Bok Bryan Habana se verdienste by Toulon word as £474 000 (sowat R7,9 miljoen) per jaar aangedui], skrumskakels [Morgan Parra verdien glo £436 000 (sowat R7,3 miljoen) by Clermont Auvergne], eerstelinie-slotte, heelagters, tweedelinie-vleuels, steelkantflanke [Thierry Desautoir het £408 120 (sowat R6,8 miljoen) by Toulouse verdien toe hy einde verlede seisoen uitgetree het, en Willem Alberts se verdienste verlede jaar by Stade Français is op €420 000 (sowat R6,2 miljoen) gestel], tweedelinie-slotte en heel laaste loskopstutte.

In laasgenoemde opsig is die sowat €480 000 (sowat R7,1 miljoen) wat die Bok Gurthrö Steenkamp na berig word verlede jaar by Toulouse verdien het dus glad nie sleg nie.

Premierliga

In die Engelse Premierliga word buitesenters die tweede meeste betaal [Manu Tuilagi van Leicester kry glo £450 000 (sowat R7,5 miljoen)], gevolg deur skrumskakels, eerstelinie-slotte, agstemanne, vaskopstutte, eerstelinie-vleuels [Liam Williams kry blykbaar oor die £300 000 by Saracens (sowat R5 miljoen)], heelagters, binnesenters [Jamie Roberts van Harlequins is ʼn uitskieter teen £380 000 (sowat R6,3 miljoen)], speelkantflanke, loskopstutte, steelkantflanke, tweedelinie-slotte, hakers en dan die tweedelinie-vleuels.

Pro14-liga

Wat die Pro14 betref, is die eerstelinie-slotte derde in die ry. Volgende is die binnnesenters, dan die eerstelinie-vleuels, steelkantflanke, skrumskakels, agstemanne, vaskopstutte, loskopstutte, speelkantflanke, buitesenters, tweedelinie-slotte, hakers en laastens die tweede-linievleuels.

Dit val op dat die slotte en die vleuels hoër aangeslaan word as die tweedelinie-spelers in enige van die ander posisies.

Bogenoemde verdienstes sluit bonusse en vergoeding vir toetsrugby uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.