Rassie Erasmus, hoof van Suid-Afrikaanse Rugby, het hom Maandag uitgelaat oor wat hy dink moontlik Saterdag kan gebeur wanneer Ierland en Skotland kragte meet om te bepaal wie tot die kwarteindstryd van vanjaar se Wêreldbekerrugbytoernooi deurdring.
Die Springbokke het 15 punte ná vier wedstryde, teenoor Ierland se 14 en Skotland se tien. Volgens Erasmus kan ʼn reeks scenario’s hom na afloop van Saterdag se wedstryd afspeel.
“As Skotland die Iere met agt of meer punte wen, en Ierland kry nie ʼn bonuspunt nie, is Ierland uit,” sê Erasmus. “Indien al drie spanne ná Saterdag se wedstryd 15 punte bymekaargemaak het, sal die span wat sy wedstryde met die grootste punteverskil gewen het, deurdring. Indien dit Skotland is, val ons uit, want Ierland het ons gewen.”
Vir dit om te gebeur, sê Erasmus, moet Skotland egter vier drieë teen Ierland druk en met meer as 20 punte wen. Ierland moet boonop ook ʼn bonuspunt kry.
“As Ierland egter met die grootste punteverskil wen, sal ons deurdring, want ons het Skotland gewen.”
Afhangend van hoeveelste die Springbokke in die groep eindig, sal hulle die 14de of 15de speel.
Erasmus is egter tevrede dat die Springbokke alles in hulle vermoë gedoen het om deur te dring. “Ons het nou geleentheid om voor te berei vir die verskillende scenario’s. Party van ons sal voorberei vir ʼn wedstryd teen die All Blacks, ander vir ʼn wedstryd teen Frankryk en Italië.”
Hy meen ook die Bokke het bereik wat hulle wou in hul wedstryd teen Tonga.
“Ons doel was om 50 punte te haal. Ons het geweet dat die wedstryd soms nie goed sou vloei nie omdat ons ons spelers geroteer het, maar die belangrikste was vir ons om die wedstryd te wen.”
Hy is ook glad nie afgunstig teenoor Ierland nie. “Ek sal baie eerder in hierdie posisie sit as om in Ierland se skoene te wees. Hulle is nommer een in die wêreld, maar Skotland moet hulle met net agt punte wen en hulle is uit die Wêreldbeker.”
Ek hou asem op, maar bly hoop en glo in die Bokke.
Ek lag Skotland wen met 8. Tata, Ierland!