Só kan Saru Allister se hoofpyne oplos

Willie-le-Roux1.jpg

Willie le Roux en Duane Vermeulen – twee oorsese spelers (Foto GB Jordaan)

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) kan twee van Allister Coetzee se hoofpyne binne ʼn oogwink oplos.

Saru sal ʼn beleid oor die kies van oorsese spelers moet neerpen en dit sal die weg baan om Handré Pollard as die nuwe kaptein in die plek van Adriaan Strauss aan te stel.

Oor die kies van spelers wat oorsee speel, is dit ʼn paar keuses waaroor besin moet word.

♦  Volg die Nieu-Seelandse, Engelse en Argentynse model deur geen speler wat oorsee speel, te oorweeg nie … dit sal na alle waarskynlikheid nie gebeur nie.

♦  Volg die Australiese model deur die deur oop te laat vir spelers wat meer as 40, 50 of 60 toetse gespeel het, steeds te oorweeg. Dit sal beteken dat Bryan Habana, JP Pietersen gekies kan word, maar wat dan van Johan Goosen en Steven Kitshoff?

♦  Volg die Walliese model deur twee of drie spelers as sogenaamde promotorskeuses en slegs in uitsonderlike gevalle te kies.

Oor die aanstelling van die nuwe kaptein, behoort slegs spelers wat in Suid-Afrika speel, oorweeg te word. Dit sal Duane Vermeulen se kanse beduiwel en die deur vir Pollard verder oopmaak.

Daar is net twee ander kandidate: Pat Lambie en Warren Whiteley.  Maar is hulle seker van hul plekke in die Bokke se beginspan?

Lambie het steeds nie sy selfvertroue herwin nadat hy deur CJ Stander in die eerste toets teen Ierland in Junie disnis geloop is nie. Whiteley gedy by die Lions, maar sukkel om op internasionale vlak sy stempel behoorlik af te druk.

Pollard is jonk, vaardig en ʼn denker van die spel en hy is seker van sy plek in die beginspan as hy volkome van sy besering herstel het.

Hy was kaptein van die Junior Bokke en daar is toe al voorspel hy is ʼn toekomstige Bokkaptein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Japie ·

Ek stem saam met die stelling om Pollard kaptein te maak,Maar net soos Lambie sal hy eers moet bewys dat hy volkome herstel het. Lambie is te gou weer blootgestel aan internasionale rugby. Dan moet ons ook die Nieu-Seelandse voorbeeld volg om geen spelers wat oorsee speel te kies nie. (As daar nog genoeg spelers hier oorbly)

Henry ·

Agge nee wat.

Laaaaank voordat kapteinskap en oorsese spelers op die tafel geplaas word, moet daar eers na die bestuur van SARU, die beëindiging van Coetzee en ander onbekwame afrigters se dienste, kwotas, vergoeding aan kleiner unies wat sakke vol geld kry en weinig waarde as teenprestasie lewer, kontrakte wat SA se beste spelers kan behou, ens ens ens.

Kry eers jou huis in orde voordat jy strate toe wil hol en vir elke Jan Rap en sy brak wil vertel dat jy eintlik die kat se snor is.

Pietser ·

Nee, nooit ‘n goeie idee om ‘n agterspeler kaptein van die Bokspan te maak nie (ek weet ook nie of Pollard kwansuis verseker is van sy plek nie). Koop Vermeulen terug en maak hom kaptein, hy is verseker van sy plek en ons kan in elk geval nie sonder hom die mas opkom nie.

Fluffie ·

Ek sou dink met ons rugby op ‘n absolute laagtepunt moet ons dalk die volgende oorweeg:

1) Alister sal so gou as moontlik spelers (ongeag of dit aan transformasie voorskrifte voldoen) identifiseer en hul nooi na ‘n oefenkamp met die doel om van 2017 ‘n meer suksesvolle rugbyjaar te maak.
2) Ek wil ook voorstel dat ons geen oorsese spelers by die groep betrek nie. Dit is makliker om plaaslik jou beste spelers te slyp.
3) Ons moet volgende jaar alles in ons vermoe doen om ‘n wedstrydplan daar te stel wat sal werk.
4) Buiten Alister se groep wat apart sal afgerig word is daar nog die Super 16 waar daar spelers geidentifiseer kan word om by Alister se groep aan te sluit.
5) Transformasie doelwitte kan eers werklik aangespreek word in 2018 – sokker het glad nie hierdie probleem nie.

Wat dink julle?

Henry ·

Ek sou jou graag wou ge-antwoord het maar MM se forumspietkop(pe) smyt kommentare wat nie in hul smaak val, in hul oorvol snippermandjies. Waarom mens nog bodder is my deksel. Gelukkig is daar talle ander opsies al is dit nie in Afrikaans nie.

Japie ·

Wil net vir Pietser daaraan herinner dat daar beroemde losskakels was wat internasionale spanne aan gevoer het. Die losskakel is in elk geval naby genoeg aan die voorspelers.

RIAAN ·

Henry.
Ek stem saam met jou, om n Flou bul kaptein te maak is dieslefde om te steel, ons kan praat en kla tot ons pers in die gesig en niks gaan verander nie.
Maak nie saak wie die Kaptein gaan wees nie, SARU gaan niks doen nie.
Die SA publiek gaan maar weer rugby kyk, kla en kerm, dreig o DSTV te stop bla bla bla bla!!!!

Ag nee! ·

Hoekom is jou WP span bankrot Pitser…..oe genade en die lot rig die bokke af……geen wonder dinge gaan so beroerd nie!

Pietser ·

WP rugby sal nooit tot niet gaan nie, daarvoor sal die Ruperts sorg. As dit ooit gebeur, is dit die einde van SA rugby, geen ander unie bring soveel talent deur nie. So, in plaas van jou verlekker in die situasie behoort jy erg bekommerd te wees oor wat dit vir die krag van SA rugby in die toekoms kan inhou. So ver ek weet is dit ‘n Japanese afrigter wat nou die Bokke afrig.

PIETMAN ·

Dink julle om oorsese spelers nie te kies nie gaan hulle motiveer om hier te bly? Ha ha. Ek dink nie jong spelers wil meer vir die bokke speel nie. Hulle gaan toenemend vanaf die skoolbanke in europa speel. Dit bied aan hulle die geleentheid om burgerskap te kry in die beskaafde wêreld. Los SA rugby, hulle is goed oppad om hulself te vernietig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.